DIE DA-beheerde Wes-Kaapse rege-ring kon die benarde finansiële situasie waarin die Oudtshoorn munisipa- liteit vandag verkeer, beslis verhinder het deur met integriteit, strategiese vaardigheid, kundigheid en beslistheid op te tree.
Net so kon die Wes-Kaapse DA- leierskap en federale raad ’n groot bydrae gelewer het om die moeras te verhinder waarin Oudtshoorn se politiek verval het sedert Mei 2013 toe vyf ANC-raadslede na die DA oorgeloop het en die DA dit luid by monde van Theuns Botha, voormalige senior DA-leier, aangekondig het.
En Die Hoorn maak hierdie uitspra-ke nie ligtelik nie. Ons glo die DA-leierskap moet ernstig introspeksie doen van sy hantering van die situasie op Oudtshoorn die afgelope paar jaar.
Laat ons begin met die dringende hofbevel wat Pierre Nel namens die DA verkry het teen die uitbetaling van ’n skikkingbedrag van R1,5miljoen aan ’n voormalige munisipale bestuur-der van Oudtshoorn, Noël Pietersen, en wat daarop gevolg het. Hierdie saak draal al sedert Augustus 2010. Hoewel die hofsaak en daaropvolgen-de appèl waarin die dringende bevel ter syde gestel is, al lankal afgehandel is, is die laaste woord oor wie binne die DA verantwoordelik is vir die betaling van die munisipaliteit se regs-koste in dié saak, na wat verneem word, nog lank nie gespreek nie.
Vir Die Hoorn is dit onverstaanbaar dat daar nie spoedeisend en billik met integriteit in dié saak opgetree word nie.
Die jongste voorbeeld van die DA op Oudtshoorn en op provinsiale en federale vlak se verwarrende en on-besliste optrede, is die pogings om die beheer van Oudtshoorn se munisipale raad oor te neem. Dit is bekend dat die voormalige speaker John Stoffels bedank het en betrokke was by die in- diening van ’n mosie van wantroue teen burgemeester Gordon April en onderburgemeester Vlancio Donson.
Dit is ook bekend dat die tafel Vry-dag (10 Junie) 10:00 by ’n raadsvergadering gedek was vir oorname van die raad deur die DA. Vrydag is die vergadering tot 14:00 verdaag en daar-na uitgestel, eers tot Maandag, toe tot vandag en daarna tot môre (Vrydag).
En baie mense wag in spanning om te sien wat môre gaan gebeur.
Die Hoorn hoor daar is tweespalt binne die DA – onder plaaslike raadslede, provinsiale en selfs federale leiers – oor wie burgemeester moet word en wie watter ander posisies moet kry.
Intussen duur die ongeregtigheid en wanorde op Oudtshoorn voort.
Miskien is volle administrasie krag- tens art 139 nou tog die enigste uitweg.
Vrae oor dié DA-optrede
Events
DONDERdag 16 Julie
Club60Klub: 09:30. Filmoggend. Tweede aflewering van die Barchester-saga. Kort opsomming van dié eerste deel van dié pragtige Victoriaanse drama sal gegee word. Oudtshoorn Aftreeoord. Lede: R2 en nie-lede R5 (dek verversings). Navrae William Gould (voorsitter) by 044 259 1515 of 072-495-0056.
MAANdag 20 Julie
Skole heropen na die wintervakansie.
WOENSDag 22 Julie
Liefhebbers van klassieke musiek op Oudtshoorn kan uitsien na ’n klavieruitvoering deur die bekroonde Nieu-Seelandse pianis, Henry Wong Doe. 18:00 in Oudtshoorn se Neelsie Teater. Kaartjies kos R100. Te koop by Die Hoorn. Navrae: JC Aucamp (044 203 8600).
THURSDAY 23 JULY
Club60Klub: 10:00. As we have a 5th Thursday this month we will enjoy one of our popular tea/cake, poetry reading, storytelling mornings. Bring along a poem you would like to share, read an extract from a book you enjoyed, or simply tell us about a significant event in your life. Then enjoy a social morning. Oudtshoorn Retirement Village. Members: R2 and non-members R5. Enquiries William Gould (chairman) 1t 044 259 1515 or 072-495-0056.
SATURDAY 25 JULY
Prince Albert Dieresorg/Animal Welfare (PADS) is hosting a Xmas in July dinner at The Gallery Café at the Seven Arches as a fundraiser for their next animal sterilisation project. Great food, entertainment and surprises. Contact PADS secretary Toni Younghusband (023 5411833 / 083 493 8650 / toni.younghusband@gmail.com) for details.
DONDERDAG 30 JULIE
Club60KLub: 10:00. Gasspreker: Die nuwe besturende direkteur van Klein Karoo International, Charl du Plessis, sal praat oor die volstruisbedryf in Oudtshoorn. Oudtshoorn Aftreeoord. Lede: R2 en nie-lede R5 (dek verversings). Navrae William Gould (voorsitter) by 044 259 1515 of 072-495-0056.
13 – 16 AUGUSTUS
Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn. Program by www.klassique.co.za. Kaartjies: Computicket en Shoprite / Checkers.
Warm Heart of the Karoo welcomes you
PRINCE ALBERT, the warm heart of the Karoo winter, will once again welcome visitors to its diversity during its Winter School from Friday, 7 August till Sunday, 16 August 2015.
During this week the townsfolk (many of them renowned specialists and artists) open their homes and artist’s studios to share their wealth of expertise and passion for a range of pursuits from weaving to calligraphy to Japanese cuisine.
On offer this year are courses in cooking, jewellery-making, blacksmithing and interior design. Camera skills, mosaic, star-gazing, yoga, art, psychological reflexology and many more are offered. There will be poetry readings, art films and talks, geological, historical and ecological excursions.
Well-known South African entertainers appear at The Showroom and fantastically creative meals, as well as comfort foods are on offer in local eateries.
Come and be enveloped by the beauty and creative energy of Prince Albert and leave enriched, enlivened and invigorated.
Voorste strykkwartette kom na KK Klassique

Die Evolution of 4-strykkwartet bring opwindende produksies na vanjaar se Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn.
FEESGANGERS by vanjaar se Klein Karoo Klassique kan uitsien na musiek deur twee van Suid-Afrika se voorste strykkwartette. Beide die Amici- en die Evolution of 4-strykkwartette, is vir die eerste keer by dié winterfees van klassieke musiek, kos, kuns en wyn, wat van 13 tot 16 Augustus die sewende keer op Oudtshoorn aangebied word, te sien.
Die Amici-strykkwartet, gestig in Kaapstad in 2006, met Suzanne Martens (viool), David Bester (viool), Karin Gaertner (altviool) en Peter Martens (tjello), word gereken as een van Suid-Afrika se beste ensembles met van die land se mees gerespekteerde strykers.
Hulle uitvoering, Sielsnare, vind op Vrydag, 14 Augustus, om 15:00 in die NG Kerk Park plaas, met onder meer Mozart se beroemde Eerste Salzburg Simfonie, Hendrik Hofmeyr se Tweede Strykkwartet met sy fabelagtige fuga en Dvořák se geliefde Amerikaanse Strykkwartet, ’n mengsel van Boheemse en Amerikaanse volksmusiek.
Feesgangers kan ook uitsien na twee uitvoerings deur die Evolution of 4-strykkwartet, gestig in Pretoria in 2011. Die lede van dié kwartet, Johanna Roos (viool), Ané van Staden (viool), Valery Andreev (altviool) en Jessica Bailey (tjello), voer musiek van plaaslike en internasionale komponiste uit. .
Op Vrydag, 14 Augustus, om 18:00 sluit hulle by die Charl du Plessis-trio, Magdalene Minnaar (sopraan) en Musanete Sakupwanya (tenoor) aan om die gehoor in Eine Kleine Jazzmusik op ’n opwindende jazz-reis deur die meesterlike musiek van Mozart te neem. Op die program is onder meer die Elvira Madigan en Rondo alla Turca.
Saterdagoggend, 15 Augustus, 09:30, neem hulle die gehoor vanaf Wene na die Karoo en Terug in ’n musikale reis na kontrasterende wêrelde met Beethoven se Strykkwartet op.18 no.6, Van Wyk se Vyf Elegieë vir Strykkwartet en Schubert se Rosamunde. Albei uitvoerings vind in die NG Kerk Park plaas.
Die volledige program is beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies is beskikbaar by Computicket en Shoprite / Checkers.
Absa borg weer KKNK
ABSA het sy borgskap van die KKNK met ‘n verdere drie jaar verleng. Absa is egter nie meer ‘n naamborg van die fees nie en dit sal weer soos oorspronklik net as die KKNK bekend staan.
Die vorige borgskap van Absa het na afloop van vanjaar se fees ten einde geloop.
Bobby Malabie, groepshoof vir bemarking en korporatiewe betrekkinge van Barclays Africa, het Dinsdag gesê daar is na hersiening besluit om voort te gaan met die borgskap. Absa, sedert 2013 lid van Barclays, is die afgelope 12 jaar betrokke by die KKNK.
“Behalwe dat ons sekere kernmarksegmente deur die KKNK wil bereik, is ons ook verheug om die kunste in ons land te ondersteun. Ons is trots op die bydrae wat ons deur die fees kon maak tot die dorp en gemeenskappe van Oudtshoorn.”
Die uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, Rhodé Snyman, het haar blydskap oor die voortsetting van die borgskap uitgespreek. “Die fees het die afgelope jare baie gegroei danksy die bank se steun. Ons sien daarna uit om die fees na nuwe hoogtes te neem met Absa se steun,” het sy gesê.
Dorp groet ‘gentleman’

Paul Smuts, in sy element op sy boot op die Knysnameer. Foto: Verskaf
Deur Liesel le Roux
“HY was ’n ware gentleman.”
So het dr David Welgemoed van Oudtshoorn die afgelope week Paul Smuts (58), ’n bekende en gewilde sakeman van Oudtshoorn, bestempel. Smuts is Saterdag in die hoësorgeenheid van die Bayview Hospitaal op Mosselbaai oorlede nadat hy op Maandag, 6 Julie, ’n massiewe hartaanval gehad het.
Smuts was die eienaar van Oudtshoorn Plant Hire wat groot bou- en grondverskuiwingtoerusting verhuur.
Welgemoed, ’n goeie vriend van Smuts, sê die hartaanval wat hy vroegoggend gehad het, het sy hartspier ernstig beskadig. Hy is in die Klein Karoo MediClinic op Oudtshoorn opgeneem en dieselfde oggend na Mosselbaai oorgeplaas.
Ten spyte van intensiewe behandeling het sy toestand nie verbeter nie.
Smuts was volgens Welgemoed gesond en fiks en het nooit voorheen enige hartprobleme gehad nie.
’n Roudiens vir Smuts is Dinsdagmiddag in die NG Kerk Oudtshoorn Park gehou.
Hy word oorleef deur twee seuns, Daniel en William, en sy vrou Trix.
Daniel het gister vertel dat hy sy pa onder meer sal onthou vir sy hardwerkendheid en toegewydheid aan sy besigheid. Dié besigheid sal voortgaan as familiebesigheid.
Raad sê eindelik ja vir begroting
Deur Garnett Wicomb
DIE 2015/16-begroting van die Oudtshoorn Munisipaliteit is tydens verlede Vrydag se buitengewone raadsvergadering uiteindelik goedgekeur met ’n aantal wysigings en aanpassings van die DA/Cope-koalisie.
Die indiening van die begroting was die laaste funksie wat Gordon April in sy hoedanigheid as burgemeester verrig het voordat ’n mosie van wantroue in hom aanvaar en Wessie van der Westhuizen van die DA as nuwe burgemeester verkies is.
Die DA het ook voorgestel dat die begroting vir goedkeuring aan die Wes-Kaapse regering voorgelê word omdat dit reeds einde Junie gereed moes wees.
Volgens die voorgestelde begroting sal inwoners van die Groter Oudtshoorn in die nuwe boekjaar 12,69% meer betaal vir elektrisiteit, 8,5% meer vir vullisverwydering, 7,5 % meer vir riolering en 7,25% meer vir water. Eiendomsbelasting styg met 7% teenoor die 14% van die vorige jaar. Die besluit oor die eiendomsbelasting het gevolg nadat die DA gevra het dat dit met 0,25% na 7% verminder word.
Op aanbeveling van die DA is ook besluit dat algemene uitgawes met R2,95 miljoen verminder word, en die voorsiening vir maatskaplike bystand onder verskillende poste gesentraliseer word onder die kantoor van die burgemeester en verminder word na R350 000. Die beskrywing hiervan moet ook verander word na burgemeesters- projekte.
Voorts moet alle kalenderdae vir viering beperk word tot sewe en alle dupliserings op die begroting verwyder word.
Die bedryfskapitaal vir die 2015/16-boekjaar beloop R526 365 miljoen en die kapitaalbegroting R60 928 miljoen.
’n Voorstel deur die oud-onderburgemeester,Vlancio Donson, dat die inkomstebedrag vir deerniskwalifikasie van R3 000 tot R3 3000 verhoog word en alle skuld van deernishuishoudings afgeskryf word, is deur die raad afgekeur.
H5N2-virus nie ernstig
Deur Liesel le Roux
DRIE plase in die Calitzdorp-omgewing is onder kwarantyn geplaas nadat die H5N2-virus by volstruise op dié plase gevind is.
Terselfdertyd het die Europese Unie (EU) sy verbod op die uitvoer van vars volstruisvleis opgehef.
Daar is geen rede tot kommer dat die vind van die virus in Calitzdorp ’n invloed op die EU se besluit kan hê nie, sê Piet Kleyn, uitvoerende hoof van die SA Volstruisbesigheidskamer (SAVBK). Volgens Kleyn is die virus as laag patogeen getipeer en word dit daarom nie as ernstig beskou nie.
Hy sê teenliggaampies is tydens normale moniteringstoetse by volstruise in die Calitzdorp-omgewing gevind en tydens opvolgtoetse is die H5N2-virus positief by volstruise op drie plase geïdentifiseer. Volstruise op verskeie ander plase binne die opvolgsone het egter negatief getoets.
Oor die besluit van die EU op 8 Julie is die volstruisbedryf baie bly, sê Kleyn. Die datum waarop volstruisuitvoere weer in werking sal tree en die voorwaardes daarvoor is egter nog onbekend.
Gordhan-brief toe net ’n blaps
Deur Liesel le Roux
’N ADMINISTRATIEWE blaps het vandeesweek daartoe gelei dat ’n brief wat tydens die beheer van die vorige burgemeester, Gordon April, geskryf is, met Oudtshoorn se nuwe burgemeester, Wessie van der Westhuizen, se handtekening aan Pravin Gordhan en Anton Bredell, nasionale en provinsiale ministers van plaaslike regering, gestuur is.
In dié brief van nege bladsye met Maandag, 20 Julie, se datum op, word breedvoerig verduidelik dat daar eintlik geen probleme binne die Oudtshoorn Munisipaliteit is nie en dat ’n herstelplan nie nodig is vir Oudtshoorn nie.
Van der Westhuizen sê hy was Maandag op pad na die hospitaal toe hy die brief gekry het om te onderteken – onder die indruk dat dit ’n brief is wat hy vir Gordhan geskryf het. Volgens hom was daar meer as een brief op die tafel en is die inhoud van ’n brief wat April geskryf het, per abuis by sy naam geplaas en vir hom gegee om te teken.
Van der Westhuizen is Maandag in die Bayview Hospitaal opgeneem nadat hy siek geword het. Hy is gister ontslaan. Volgens hom ontvang hy tans behandeling nadat vernouings in sy are gediagnoseer is. Hy het gister gesê dat hy veel beter voel en het laat die oggend weer by die munisipaliteit ingeval.
Meyer kyk na Eskom-skuld
Deur Liesel le Roux
DIE Wes-Kaapse minister van finansies, dr Ivan Meyer, skenk tans aandag aan die betaling van die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit se agterstallige Eskom-rekeninge, sê sy woordvoerder, Daniel Johnson.
Johnson het verlede Vrydag by navraag van Die Hoorn gesê Meyer het reeds betalings van R32000 aan Eskom goedgekeur en verifieer tans twee verdere fakture vir altesame R891 000.
Die munisipaliteit het egter na wat verneem word gister nog meer as R33miljoen aan Eskom geskuld, met digby R18 miljoen wat tussen 30 en 60 dae uitstaande is en dadelik betaal moet word.
Nadat die Groter Oudtshoorn-raad nie sy begro-ting soos vereis teen 30 Junie goedgekeur het nie, het Meyer beheer oor onttrekkings uit die munisipaliteit se bankrekeninge en die Kango Grotte kragtens Art 26 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (Wet 56 van 2003) oorgeneem. Dit beteken dat geen onttrekkings uit die rekeninge sonder sy toestemming gedoen mag word nie.
George Kersop, voorsitter van AfriForum se Oudtshoorn-tak, het gister gesê die munisipaliteit het volgens Eskom nog geen ooreenkoms met Eskom getref oor die afbetaling van die agterstallige skuld nie.
Messteek in middedorp
Deur Stefan Skapie Goosen
’N JONG man is Sondagoggend (19 Julie) omstreeks 02:30 voor Autozone in Hoogstraat deur twee mans met ’n mes in die skouer gesteek ná ’n woordewisseling in Corner Deli.
’n Vriendin het hierna, volgens ’n ooggetuie wat gevra het om anoniem te bly, met Johan Basson (28) van Oudtshoorn na die Klein Karoo MediClinic gejaag.
Volgens die ooggetuie het Basson en ’n groep vriende ná die prysuitdeling van Saterdag se ovaalbaanwedrenne by Corner Deli aangegaan. Terwyl hulle in die ry gestaan het om ’n bestelling te plaas, het ’n welgeklede man na bewering probeer indruk en het ’n stryery ontstaan. Toe Basson en sy vriende die winkel verlaat, het die man buite ge-wag en het die stryery weer begin. Die man het daarna glo ’n vriend nader geroep terwyl iemand gegil het: “Kill him, kill him!”
“Dit was so vinnig gewees, ons kon niks doen nie,” het die ooggetuie vertel. Hy sê Basson is van voor en agter aangeval. “Gelukkig het die handvatsel van die mes afgebreek nadat die ou hom die eerste keer in die skouer gesteek het, anders het hy net aangehou daarmee,” sê die ooggetuie.
Die lem van die mes wat in Basson se skouer agtergebly het, het volgens die ooggetuie waarskynlik sy lewe gered. “Die dokter het gesê Johan was baie gelukkig. As die mes ’n paar sentimeter hoër ingesteek is, kon dit ’n slagaar getref het.”
Die aanvallers het volgens die ooggetuie in ’n metaalgroen Volvo S40 weggejaag.
“Van ons vriende het hulle agterna gesit om die registrasienommer te kry,” vertel die ooggetuie.
Die registrasienommer is aan die Polisie gegee.
Volgens Johanna Keretetsi, woordvoerder vir die MediClinic, het Basson steke in die skouer gekry en is hy nie in die hospitaal opgeneem nie.
Basson wou nie vandeesweek oor die voorval praat nie.
Kapt Louis Visser, woordvoerder vir die Oudtshoorn Polisie, het gesê ’n klagte van ernstige aanranding word ondersoek.
Niemand was teen gister al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Asems opgehou!

Patricia de Lille, Wes-Kaapse DA-leier, verlede Vrydagmiddag aan die woord by ’n perskonferensie pas nadat die DA beheer oor die Groter Oudtshoorn-raad oorgeneem het. By haar sit Wessie van der Westhuizen, wat verkies is tot nuwe burgemeester. Agter tweede van links staan John Stoffels van die NPP wat tot onder-burgemeester verkies is. Die ander raadslede is van links die DA se Johan Fourie, Pierre Nel, Pat Wagenaar, Chris Macpherson (speaker, agter), Eva Fortuin, John Maxin van Cope, Felicity Magxaka, Jurie Harmse, Julia le Roux en Raymond Wildschut.
Deur Schalk le Roux
en Liesel le Roux
DIE oë van die Groter Oudtshoorn se vuisvoos belastingbetalers is met groot afwagting op die DA gerig nadat dié party Vrydag met die hulp van Cope die beheer van die dorp se munisipale raad oorgeneem het.
Ná twee jaar se wanadministrasie waarin miljoene rande se belastingbetalersgeld op onder meer onnodige regskoste vermors is en die munisipaliteit ’n reuse-skuldlas opgebou het waarvan die presiese omvang nog bepaal moet word, is daar groot druk op die raad onder die burgemeesterskap van Wessie van der Westhuizen om die haglike situasie by die munisipaliteit te begin beredder.
Die DA het Vrydag beheer van die raad oorgeneem nadat mosies van wantroue in die ANC se Gordon April en Icosa se Vlancio Donson, vorige burgemeester en onderburgemeester, deur die raadslede van die DA, Cope en die NPP aanvaar is.
April van die ANC en Donson van Icosa was die afgelope twee jaar deel van ’n minderheidskoalisie wat geweier het om die mag af te staan en voortgegaan het om die dorp te “regeer” asof dit hul eie besigheid is en sonder om verantwoording aan belastingbetalers te doen.
In hul plek is Van der Westhuizen tot burgemeester verkies terwyl die omstrede John Stoffels van die NPP met die onder-burgemeesterspos “beloon” is.
Pogings die afgelope twee jaar om die raad oor te neem deur mosies van wantroue is keer op keer deur Stoffels, die vorige speaker en koalisievennoot van die ANC en Icosa, gefnuik. Ironies genoeg was dit Stoffels wat die oorname deur die DA moontlik gemaak het deur drie weke gelede as speaker te bedank. Dit het die weg gebaan vir die DA/Cope-meerderheid om Chris Macpherson tot speaker te verkies.
Met ’n nuwe speaker in die stoel kon die raad uiteindelik stem vir mosies van wantroue wat voor die raad dien. Die 10 ANC-raadslede en Donson het voor die stemming uit die raadsaal gestap omdat die mosies volgens hulle onwettig ingedien is.
Daarna is Van der Westhuizen on-bestrede as burgemeester en Stoffels as onder-burgemeester verkies. Van der Westhuizen se verkiesing skep nou ’n vakature in die Eden Distriks-munisipaliteit waar hy burgemeester was. ’n Nuwe burgemeester sal eersdaags in Eden verkies word.
Ondanks die groot afwagting, verneem Die Hoorn dat die DA se Wes-Kaapse en federale leierskap nie kan besluit wat op Oudtshoorn gedoen moet word nie. Gaan die gesamentlike herstelplan van die nasionale en Wes-Kaapse departemente van plaaslike bestuur geïmplimenteer word of gaan die dorp onder volle administrasie geplaas word, word gevra.
• Die Wes-Kaapse DA-leier, Patricia de Lille, wat Vrydag se marathon-raadsvergadering van sowat vyf ure bygewoon het, het ná afloop daarvan gesê die dorp is tydens die vergadering “uit die kloue van die ANC bevry”. Sy het beloof dat die DA alles in sy vermoë sal doen om korrupte amptenare en raadslede tot verantwoording te roep.
De Lille het ook in ’n persverkla-ring vandeesweek gesê dat die DA ’n dringende ondersoek deur die Wes-Kaapse regering gevra het om vas te stel of die munisipaliteit bankrot is.
“As dit so is, het al die DA-raadslede en die Cope-raadslid aangedui dat hulle ’n vermindering in hul salarisse sal aanvra om die munisipaliteit te help.”
Volgens De Lille is die DA se belangrikste prioriteit nou om die dorp se finansies aan te spreek.
“Die tyd vir politieke opportunisme op Oudtshoorn is verby. Die DA sal nou daarop fokus om die dorp se finansies reg te ruk en die dienste aan die mense van Oudtshoorn te lewer wat hulle verdien.”
• Van der Westhuizen en Stoffels het oor die naweek hul kantore betrek nadat April en Donson onder toesig persoonlike dokumente en besittings kon verwyder.
• Intussen is ’n reuse-blaps begaan toe ’n uiters omstrede brief onder die munisipaliteit se briefhoof aan onder andere die nasionale en die Wes-Kaapse ministers van plaaslike owerhede gestuur is. Die brief is egter kort nadat dit gestuur is, teruggetrek.
Bridgton klop NMMU net-net!

Anver Venter wat twee van Bridgton se drieë gedruk het. Foto: Ebenezer Titus
Deur Garnett Wicomb en Higgo Jacobs
DIE Bridgton Rugbyklub het verlede Woensdagaand (22 Julie) op die Bridgton Sportgronde vyf waardevolle ligapunte ingesamel in ’n SWD Premierligawedstryd teen Madibaz George (NMMU). Bridgton het die wedstryd met 32-29 gewen en boonop vyf drieë vir ’n bonuspunt gedruk.
Die wenspan het rustyd met 19-16 voorgeloop.
Dié sege plaas Bridgton met 36 ligapunte in die vierde plek op die ligapunteleer wat beteken ’n halfeindstryd is steeds binne hul bereik.
Bridgton se vyf drieë is deur Anver Venter (2), Herschelle America, Charlie Ewerts en Densil Prins gedruk. Venter het ook met twee doelskoppe en ’n strafdoel geslaag.
Keith Meyer, Bridgton se afrigter, sê sy span het goed verdedig, maar dat daar ruimte vir verbetering in hul “man-tot-man”-verdediging in gebroke spel is. “Te veel mislukte duikslae het drie drieë teen ons tot gevolg gehad.”
Volgens Meyer het sy span meer as sy man teen die swaarder agttal van die studente gestaan.
“Bridgton se agtsteman, Mondi Stofile, en die flanke, Wayne Jullies en Dawid Goliath, het uitstekend as ’n lostrio saamgespeel. Hulle gaan hul teenstanders nog harde bene laat kou.
“Greame September, skrumskakel, was ’n do-ring in die studente se vlees met sy vlymskerp breekslae en goeie verdediging.
“As ons tot die halfeindronde wil deurdring, kan ons dit nie langer bekostig om op ons louere te rus nie en sal ons skoppe na die pale in die kol moet wees,” het Meyer gesê.
• Bridgton se B-span het met 35-12 en die C-span met 39-15 gewen.
Vir die B-span het Kurt Rhode, Marvin Linger-veld, Roderick January, Andre Fielies en Willie Ntlanganiso elk ’n drie gedruk. Brian Jonathan het met vyf doelskoppe geslaag.
Die C-span se sewe drieë is gedruk deur Francois Stuurman (2), Ryno Ryneveld (2), Percival Dido, Keith Meyer en Mortimor Filander. Jacques Jullies het twee daarvan verdoel.
• Bridgton speel Saterdag op Uniondale in sy dertiende ligawedstryd teen Uniondale United.
• In die SWD Presidentsliga (Karoostreek) lyk dit asof Harlequins en Collegians se eerste spanne sake gaan uitspook vir die uitspeelwedstryde op 5 September. Harlequins het 33 punte en is derde op die punteleer terwyl Collegians met 24 punte die vierde plek beklee.
Oudtshoorn is vyfde met 21 punte. Spring Roses en Dysselsdorp, wat Saterdag sake op die Bridgton Sportgronde uitspook, het onderskeidelik 13 en 12 punte.
Hulp van ou Boys Highers gevra!
Deur Stefan Skapie Goosen
DIE CP Nel Museum het hierdie week ’n dringende beroep op oud-leerders van die Boys’ High School en ander persone gedoen, om te help met items vir ’n permanente uitstalling oor die Boys’ High School in die Rembrandtsaal.
Daar is reeds vandeesweek begin met om die uistalling wat iets wil vasvang van hierdie skool wat vir jare in die gebou gevestig was waar die museum nou is. Hier is vir dekades jong mans van nie net Oudtshoorn nie, maar van regoor die land, voorberei en opgevoed.
Die seunskool is in 1881 gestig en ’n eenverdieping-gebou opgerig waar die polisiekantoor nou staan.
Hierdie gebou is later deur die Meisieskool oorgeneem en teen 1907 het die seuns by hul nuwe skool met sy pragtige sandsteentoring ingetrek.
Die museum het ’n dringende beroep op die publiek gedoen vir enige skenkings.
Trofees, medaljes, ere-toekennings, iets wat dalk uit die koshuis kom, ou sporttoerusting, ’n kadetuniform, ’n ou musiekinstrument of selfs ’n ou gesangeboekie wat deur die skool ge- bruik is, sal met ope arms ontvang word.
Dalk het jy ’n kunswerk om te skenk wat uit die skool se destydse kunsgebou kom.
Neem gerus die skenking so gou as moontlik na die CP Nel Museum, of kontak Hazel Jonker by 082 651 8037.
Op Prins Albert vier almal saam matriekafskeid

Die matrieks van die Hoërskool Zwartberg tydens hul matriekafskeid voor The Showroom in Prins Albert. Foto: Fourie Munro
Deur Marlene Malan
OP een van die Karoo se mooiste dorpe is sy matrieks se mooiste aand ’n groot geleentheid.
Dit was weer so die afgelope Vrydagaand toe die Hoërskool Swartberg se matriekklas afskeid van hul skoolloopbaan geneem het.
Matriekafskeid bestaan vir dié skool se leerders, sowel as hul gesinne en die gemeenskap, en nie uit ’n aandviering alleen nie.
“Dis ’n groot geleentheid vir die hele gemeenskap van Noordeinde waar ons matrieks woon. Sommiges se familielede het ’n nuuskierige draaitjie gegooi by die huis waar daar opgetof is. Party het sommer toe al partytjie begin hou met ’n eetdingetjie en drinkdingetjie.
“So vroeg as drieuur het die klas – in hul spesiale uitrustings – bymekaargekom en ’n optog vanaf die skool deur die dorp gehou na Noordeinde waar hulle deur die strate gery is sodat almal hul kon sien,” het Christelle Smit, ’n onderwyseres, vertel.
Daarna is die groep van 60 matrieks na die Sydwill Williams-gemeenskapsaal geneem, waar hulle deur die sentrum gestap het en aan ’n groot skare mense voorgestel is.”
Die fotonemery volg altyd daarna op ’n vooraf gekose plek, sê Smit.
“Vanjaar is die amptelike foto’s van ons matrieks en hul metgeselle in die pragtige The Showroom-teater geneem.
“Die paartjies is net daarna afgelaai by Huis Kweekvallei, die tehuis vir bejaardes in Prins Albert, oorkant die skool, om vir ons ouer inwoners hul pragtige tabberds te wys.”
Die skoolsaal was ’n kleurspel van swart-en-rooi.
“Ons het die saal nie volgens ’n spesifieke tema versier nie.”
Toesprake is deel van ’n matriekafskeid, sê Smit.
“Inspirerende toesprake is gelewer deur ons skoolhoof, mnr Ricky McKnight, en die voorsitter van die verteenwoordigende raad van leerders, Cealine May, met musiek deur die dorp se eie gewilde orkes, Slam Jam.”
Die besgeklede paartjie van van die aand was Valdine de Bruin en haar metgesel, wat elk ’n Indiese uitrusting aangehad het.
Beroemde pas gestrem deur gruistekort

Daar is kommer oor die toestand van die Swartbergpas. Dié foto is ’n paar honderd meter van die “Groot Klip” aan die suidelike kant van die pas geneem. Volgens Jan Bester van True South Travel steek party klippe tot 30 cm bokant die padoppervlak uit. Foto: Verskaf
HERSTELWERK aan die oppervlak van die Swartbergpas word tans gestrem deur probleme om gruismateriaal in die hande te kry, sê Juan Prodehl, distrikspadingenieur van die Wes-Kaapse departement van vervoer.
Die Hoorn het Prodehl genader oor die oppervlak van die pas nadat ’n bekende in toerismekringe, Jan Bester van True South Travel, die week in ’n e-pos sy kommer uitgespreek het oor die negatiewe uitwerking van dié haglike padoppervlak van die pas op toerisme.
Bester het Maandag ’n e-pos uitgestuur na ’n wye groep belanghebbendes nadat ’n groep toerope- rateurs aangedui het die padoppervlak van die Swartbergpas is te gevaarlik vir hul kliënte as gevolg van die risiko van skade aan hul voertuie.
Volgens Bester het hy die toeroperateurs wat in Kaapstad gebaseer is, die afgelope naweek na Oudtshoorn gebring om hul in te lig oor die gebied en so toerisme te stimuleer.
“Die hoogtepunt van so toer is altyd die Swartbergpas met ’n besoek aan die Ou Tolhuis. Terwyl ons met die pas opgery het, was my gaste geskok oor die toestand van die pad.
“Die ironie is dat ons duisende rande spandeer het om die toeroperateurs te ontvang, net om te hoor dat hulle voortaan die Swarbergpas uit hul toerprogramme gaan uitlaat totdat hulle die versekering van ons ontvang dat dit veilig is om sonder skade aan voertuie daar te ry.”
Prodehl sê die departement van vervoer is bewus van die toestand van die pad en sal met herstelwerk begin sodra hulle daarin kan slaag om gruis in die hande te kry. Volgens hom kan die departement as gevolg van nuwe wetgewing nie net meer ’n gruisgat in die veld oopmaak en daar gruis uithaal nie en moet ’n lang prosedure gevolg word.
“Dit kan selfs tot ’n jaar duur,” het hy gesê.
Propdehl sê dit wil egter voorkom of hulle wel deur Prins Albert vinniger gehelp sal kan word en dat hulle hoop om binnekort op so ’n manier gruis in die hande te kry.
Volgens hom benodig die padoppervlak van die pas aan beide kante van die Swartberge herstelwerk.
Bester sê CapeNature het ’n konsessie aan hom toegeken vir die Ou Tolhuis, “en tensy ons toeriste se veiligheid oor die pas kan verseker, kan ons een van die grootste toerisme-aantreklikhede in die Klein Karoo verloor.
“Daar moet tog wetgewing wees wat ’n wêrelderfenisgebied beskerm teen ’n gebrek aan onderhoud?”
Galakonsert beloof opera-hoogtepunte
DIE Mimi Coertse Galakonsert: Ons Gaan Groot wat tydens vanjaar se Klein Karoo Klassique plaasvind, beloof ’n aand vol opera-hoogtepunte om hulde te bring aan Suid-Afrika se opera-legende, Mimi Coertse. Dié konsert vind op Saterdag, 15 Augustus, om 18:00 plaas.
“Ons het gevoel dat dit ’n goeie idee is om hulde aan Mimi Coertse, ons groot diva van opera, te bring. Die wonderlike S le Roux Marais-lied, Heimweë, is hiervoor gekies en dit gaan ’n fantastiese huldeblyk wees, uitgevoer deur die volle geselskap,” sê sopraan Magdalene Minnaar. Minnaar deel die verhoog met die Universiteit Stellenbosch Simfonieorkes (USSO) onder leiding van maestro Corvin Matei, die vokale ensemble van die Kaapstad Operakoor (KSO) met musiekregie deur Marvin Kernelle en die tenoor Sipho Fubesi.
Volgens Minnaar is die Mimi Coertse Galakonsert ’n moet vir alle liefhebbers van klassieke musiek. “Die program is só saamgestel dat daar talle bekende opera-treffers is en wonderlike orkesmusiek. Dit is baie toeganklik met wonderlike werke en ook ligter werke uit operettes,” sê Minnaar. Die Stellenbosch Ouverture van Alan Stevenson, spesiaal vir die USSO geskryf, is ook ingesluit.
“Hierdie is een van die mees opwindende programme wat ek in ’n lang tyd gesien het. Ek sien uit na al die musiek, maar die heel meeste na die Regina Coeli saam met die KSO. Dit is ’n asemrowende uittreksel uit die opera Cavalleria Rusticana. Ek dink dit is fantasties dat Klein Karoo Klassique só ’n groot, spoggerige galakonsert aanbied. Dít is wat gehore opgewonde maak!”
Die optrede saam met Fubesi is vir Minnaar spesiaal, aangesien hulle albei in 2007 en 2008 deel van die KSO Studio was en hierdie die eerste keer is wat hulle weer saam optree. Dit is ook die eerste keer wat die USSO saam met Minnaar optree.
“Magdalene is ’n welbekende Suid-Afrikaanse kunstenaar wat reeds saam met verskeie orkeste gewerk het. Hierdie is egter haar eerste optrede saam met die USSO en ons sien baie daarna uit om saam met haar te werk en op te tree,” sê Peter Martens, artistieke administrateur van die US Musiekdepartement.
Volgens Martens is daar niks meer opbeurend as die klank en emosie van ’n volle simfonieorkes nie. “Veral nie ’n bekroonde studenteorkes, waar die energie van al die jong kunstenaars verenig en gesamentlik skitterende melodieë, harmonieë en ritmes van die wêreld se mees geliefde opera-arias lewer nie. Ek waarborg dat elke feesganger vir wie die Galakonsert ’n eerste simfonie-ervaring is, daarna ’n lewenslange simfonie-fanatikus sal wees,” sê Martens.
“Die uniekheid van Klein Karoo Klassique lê daarin dat die fees ’n gewone Klein Karoo-dorp omskep in ’n wêreldklas klassieke musiekfees. Die mate waarin musiek mense se gemoedere kan verenig en verhef, kan tydens die fees in die strate van Oudtshoorn gevoel word,” sê Martens.
Vir die KSO, wat verlede jaar vir een van die hoogtepunte by Klassique gesorg het, is dit ’n reuse-voorreg en kompliment om terug te keer. “Verlede jaar se terugvoer van die gehoor was vir ons bemoedigend en ons is verheug om weer genooi te word,” sê Marvin Kernelle, konsertmeester van die KSO.
“Ons sien baie daarna uit om saam met Magdalene en Sipho, wat albei voorheen lede van die KSO was, op te tree, asook na begeleiding deur die USSO. Klein Karoo Klassique is ’n baie goed georganiseerde fees en kunstenaars word as be- langrike gaste ontvang. Die fees maak dit vir ons as kunstenaars moontlik om te groei.”
Kaartjies is beskikbaar by Computicket en Shoprite / Checkers. Die program is beskikbaar by www.klassique.co.za.
Feesgangers kan hul musiek-ervaring aanvul met smuletes by ’n verskeidenheid restaurante en koffiewinkels op die dorp, deur die omgewing se top wyne te proe en by die dorp se galerye in te loer vir uitstallings deur verskeie kunstenaars.
Vanjaar se Klein Karoo Klassique, word van 13 tot 16 Augustus op Oudtshoorn aangebied
Regspan vra oor betaling
Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van die voormalige burgemeester van Oudtshoorn, Gordon April, in die sogenaamde sand-en-klipsaak, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof uitgestel omdat sy regspan eers klarigheid wil verkry of die Oudtshoorn Munisipaliteit sal voortgaan om sy rekening te betaal.
Dieselfde geld April se medebeskuldigde, Raymond Wagenaar, assistant-direkteur; stormwater en strate. April en Wagenaar staan tereg op vyf aanklagte van diefstal deurdat hulle na bewering sand en klip van die munisipaliteit sou gesteel het asook ’n munisipale voertuig onwettig gebruik het.
April word ook aangekla van regsverydeling en intimidasie.
Die staatsaanklaer, Tommy Verreyne, het die hof meegedeel dat hy verlede Vrydag kennis van die opdraggewende prokureur, Ben Botes van Johannesburg, ontvang het dat hy en adv Willie Vermeulen SC, nie teenwoordig sal wees nie omdat hulle eers klarigheid oor die betaling van hul rekening wil verkry.
’n Plaaslike prokureur, Rolene van Rooyen, wat deur Botes versoek is om namens hulle in te staan, het die hof om uitstel gevra.
Verreyne het beswaar gemaak omdat die saak reeds drie jaar lank op die rol is en die hele week daarvoor opsy gesit is.
Op 19 Desember 2014 was die regskoste reeds R144 000 vir drie dae se verhoor.
Volgens Verreyne het die verdediging glo nog nie sekuriteit van die munisipaliteit ontvang vir die betaling van die regskoste nie omdat die ANC nie meer in beheer van die raad is nie.
Van Rooyen het gesê Vermeulen het haar die versekering gegee dat hy wel self teenwoordig sal wees by die volgende verskyning en die hof sal inlig oor sy posisie.
Streeklanddros Mark van Wyngaardt het gesê die probleem is dat hy die hele week vir die saak opsy gesit het.
“My hofrol is vol en ek sal glo dat ’n uitvoerende burgemeester oor die finansies sal beskik om sy eie verdediging te betaal,” het hy gesê.
Hy wou ook weet wat die koste van die sand en klip is wat na bewering gesteel is.
Van Wyngaardt het egter gesê hy aanvaar dat die beskuldigdes eers Vrydag kennis van hul regsverteenwoordigers ontvang het en dat dit net billik sal wees om hulle genoeg tyd te gee om nuwe regsverteenwoordigers te kry.
Die voertuigbestuurder wat met ’n munisipale bakkie die sand en klip van die munisipale depot op Dysselsdorp na April se woning geneem het, Aubrey Rala, het vroeër getuig dat April hom die versekering gegee het dat hy nie in die moeilikheid sal beland nie.
Die saak is uitgestel tot 31 Augustus.
Gerstner-bedanking groot slag vir Grotte
Deur Liesel le Roux
DIE bestuurder van die Kango Grotte die afgelope 23 jaar, Hein Gerstner, het bedank.
Gerstner, ’n argeoloog wat beskou word as een van dié kundiges in die land oor die bestuur en bewaring van grotte, het sy bedanking na verneem word verlede Vrydag ingedien – twee dae voordat ’n insetsel Sondagaand op die aktualiteits-TV-program Carte Blanche oor probleme binne die muni-sipaliteit gebeeldsend is.
In dié insetsel sê Gerstner dat dit baie moeilik is om ’n plek te bestuur indien jy geen beheer het oor die kontantvloei nie en die hele tyd moet veg om die geldkoffers en die besigheid oop te hou.
R16 miljoen – bedoel vir die betaling van instandhouding en ontwikkeling by die Grotte – is verlede jaar van die Grotte se beleggingsrekening na munisipale rekenings oorgeplaas.
In die insetsel het Gerstner dokumente oor die finansiële situasie by die Grotte as ’n uitroep om hulp bestempel. Volgens hom het die dokumente onder meer getoon dat die beleggingsrekening in 2011 digby R18miljoen sterk was en ná onttrekkings in ’n stadium tot slegs R139 gedaal het.
Op ’n vraag van John Webb, aanbieder van Carte Blanche, oor wat die gevolge van sy gesprek met Carte Blanche sal wees, het ’n emosionele Gerstner gesê hy voel as “bewaarder” van dié erfenisterrein dit is sy verantwoordelikheid om te praat.
Daar was na verneem word vandeesweek reeds druk van provinsiale vlak op Gerstner om sy bedanking terug te trek.
• Intussen het Oudtshoorn se nuwe burgemees-ter, Wessie van der Westhuizen, verlede Vrydag (24 Julie 2015) ’n besoek aan die Grotte gebring. Stefan Goosen berig dat Van der Westhuizen gesê het ’n persepsie wat ontstaan het dat die Kango Grotte moontlik kan sluit, is verkeerd.
Van der Westhuizen het Vrydag met Gerstner en die onder-bestuurder van die Grotte, Allison Moos, vergader oor die finansiële toestand en voortbestaan van die Grotte en daarna die media te woord gestaan. Die dorp se omstrede waarnemende munisipale bestuurder, Ronnie Lottering, het die gesprek bygewoon.
Lottering was ook die waarnemende munisipale bestuurder toe dit bekend geword het dat R16mil-joen uit ’n beleggingsrekening van die Grotte oorgeplaas is na munisipale rekenings asook toe tenders vir die bedryf van die Grotte se restaurant en kuriowinkel op omstrede wyse toegeken is.
Hoewel die toekenning van dié tenders na groot ontevredenheid deur die munisipaliteit teruggetrek is, is hofsake hieroor steeds hangende.
Miljoene rande wat aan diensverskaffers van die Grotte betaal moet word, is ook na bewering nog uitstaande.
Van der Westhuizen het gesê hy wil ’n wanper-sepsie dat die Grotte gaan sluit, regstel. “Die Grotte sal nooit sluit en verval nie. Daaglikse toere gaan soos gewoonlik voort.”
Volgens Van der Westhuizen sal ’n taakspan binne die volgende twee weke saamgestel word om aandag te skenk aan die bestuur van die Grotte en om ’n finansiële analise te doen oor die beweerde finansiële wanbestuur van fondse van die Grotte. Die taakspan sal bestaan uit verteenwoordigers van die Kango Grotte se bestuur, raadslede, asook verteenwoordigers van die provinsiale en nasionale regering.
“Die gemeenskap moet bewus wees daarvan dat die Kango Grotte self aan die nasionale regering en die grond aan die provinsiale regering behoort, en die geboue deur die plaaslike regering bestuur word,” het hy gesê.
Nuwe, beter lewe vir die Klein Karoo se mooiste Kaptein

Kaptein, die woelige skaaphond van Oudtshoorn, wat homself nou in Johannesburg bevind. Foto: Facebook
Deur Stefan Skapie Goosen
KAPTEIN, ’n woelige driekleurige herdershond van Oudtshoorn, se lewe het ’n positiewe draai gemaak toe hy die afgelope week deur Border Collie Rescue SA in Johannesburg aangeneem is.
Kaptein wat ongeveer vyf of ses jaar oud is, is volgens Nico May, bestuurder van die Oudtshoorn Diereskut, ’n paar mande gelede deur sy eienaar aan die diereskut geskenk omdat hy “veels te aktief” was.
Hy sê ’n vrywilliger van Oudtshoorn Dogs in Need wat gereeld met die honde kom stap en hulle voer, het Border Collie Rescue SA in Gau-teng van Kaptein vertel en ook op Oudtshoorn Dogs in Need se Facebook-blad aan hom blootstelling gegee.
Op dié Facebook-blad word Kaptein bestempoel as ’n gehoorsame, goedgeaarde hond wat baie lief is om met ’n bal te speel en ’n redelike “kenner” op hierdie gebied is!
May vertel: “Sue Harris van De Rust het Kaptein versorg en opgepas en verseker sy reis Gauteng toe het vlot verloop.”
Border Collie Rescue SA spesialiseer daarin om nuwe tuistes vir hierdie honde te vind.
Hy bevind homself nou veilig by hulle in Centurion waar hy op ’n nuwe tuiste wag.