Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Anargie in raad

$
0
0

Deur Liesel le Roux

DAAR is verwarring op Oudtshoorn oor wie die munisipale raad beheer nadat ‘n spesiale raadsvergadering gistermiddag (Vrydag, 18 September) waarby personeelsake bespreek sou word, ontaard het in ‘n poging deur die ANC om beheer van die raad oor te neem. Tydens die vergadering wat om 14:00 begin het, sou dringende personeelsake deur die raad aangespreek word.

Dié gebeure kom tydens ‘n administrasieproses op Oudtshoorn met die herstel van die dorp as doelwit. Die administrateur, Kam Chetty, wou na gister se spesiale raadsvergadering nie kommentaar lewer nie en het gesê Die Hoorn moet eerder met die onderskeie politieke partye praat.

Hier volg ‘n kort opsomming van gister se gebeure:

PERSONEELKWESSIES

Hy het as speaker die spesiale vergadering belê sodat die raad sekere belangrike personeelkwessies kan bespreek, sê Chris Macpherson (DA). Onder die personeelkwessies tel die sekondering van senior personeel van die Wes-Kaapse regering na Oudtshoorn  en ‘n agendapunt oor onregverdige arbeidspraktyke: RP Lottering en F Human. Omdat die vergadering oor personeelsake was, is dit “in komitee” gehou, en is die media en publiek nie daar toegelaat nie.

HARMSE ‘LOOP WEER OOR’

Met die aanvang van die vergadering het die ANC-hoofsweep, Nondumisa Gunguluza, verlof gevra om  ‘n dringende mosie in te dien. Dit is deur Macpherson toegelaat. Gunguluza het aan Die Hoorn gesê sy het gevra dat die agenda van die voorafgaande Vrydag (11 September)  se vergadering ook hanteer moet word (“to deal with the agenda”).

Gunguluza se mosie is aanvaar met die steun van die ANC-raadslede, asook die stemme van die Icosa-raadslid (Vlancio Donson), NPP-raadslid (John Stoffels wie se skorsing meer as ‘n week gelede uit sy party nog deur die OVK bevestig moet word) en die van ‘n DA-raadslid, Jurie Harmse. Hierna was die spreekwoordelike gort gaar.

Die belang van Gunguluza se voorstel lê daarin dat die agenda van 11 September mosies van wantroue in burgemeester Wessie van der Westhuizen, speaker Macpherson (albei DA) en onder-burgemeester Stoffels (NPP) insluit. (Die mosies is nie op 11 September hanteer nie, omdat die ANC-raadslede nie by die vergadering opgedaag het om die mosies tot stemming te bring nie; vermoedelik omdat hulle nie voldoende steun daarvoor kon kry nie.)

Harmse en Stoffels se steun vir die ANC-mosie wat met 13-11 aanvaar is, was deurslaggewend vir die aanvaarding daarvan en het sedert gister baie reaksie ontlok. Harmse, wat in 2013  van die ANC na die DA oorgeloop het, het klaarblyklik nou besluit om weer terug “oor te loop”. Stoffels het ook weer sy mantel gedraai nadat hy sedert Julie skielik die DA begin steun het maar nadat hy verlede week deur sy party geskors is, weer die ANC begin steun het. Stoffels sal nog kortstondig raadslid wees omdat die raad nog wag op die nodige skrywe van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) dat sy posisie as raadslid vakant is. (Luidens ‘n berig in Die Burger vandag was dokumentasie oor Stoffels wat deur die kantoor van die munisipale bestuurder aan die OVK gestuur is, foutief en word die proses daarom vertraag.)

KOUKUSSE EN VERDAGING

Voordat die mosies egter voor die raad kon dien, het Van der Westhuizen vir ‘n koukus gevra. Volgens Macpherson het hy tydens dié koukusbreuk regsadvies ontvang dat die ander agenda en die mosies nie kan dien tydens die spesiale raadsvergadering nie, en het hy raadslede na die koukusbreuk  so ingelig.

Volgens hom het die ANC egter volgehou dat die mosies moes dien en het daar wanorde in die raadsaal uitgebreek.  “Ek het die raadslede gevra om my beslissing as speaker te respekteer en moes in ‘n stadium die ANC-hoofsweep vra om die raadsaal te verlaat.” Macpherson sê hy het die vergadering verdaag omdat die wanorde nie bedaar het nie.

In hierdie stadium, omstreeks 15:30,  het Die Hoorn op die sypaadjie buite die munisipale gebou ‘n groot rumoer binne die gebou gehoor en die skellende stemme van vroue. Binne die munisipale gebou was van die ANC-raadslede duidelik ontsteld omdat die vergadering verdaag is.

VERSOEK VIR BUITENGEWONE RAADSVERGADERING

Die party het kort daarna met die steun van Donson, Stoffels en Harmse  ‘n brief aan die speaker (Macpherson)  opgestel waarin gevra is dat ‘n buitengewone raadsvergadering  om 16:00 moet plaasvind waar die volle agenda van die vergadering van 11 September bespreek moet word. Die skrywe vra voorts dat die publiek nie die vergadering mag bywoon nie omdat raadslede by die “laaste raadsvergadering” deur “kwaai” lede van die publiek gyselaar gehou is en beroep hulle op seksie 160(7) van die Grondwet.

NET SPEAKER MAG VERGADERING BELê

Macpherson sê hy het die versoek vir die buitengewone vergadering eers 16:17 op sy tafel ontvang en dat hy dit dus nie kon belê nie en dat die vergadering daarom “totaal onwettig” was. Slegs die speaker mag ‘n raadsvergadering belê. Volgens hom vereis die wet ook dat die speaker in so ‘n geval die munisipale bestuurder moet opdrag gee om ‘n kennisgewing van so ‘n vergadering aan elke raadslid te gee.

“Ek het nie toestemming vir die vergadering gegee nie. Daar was in elk geval geen rede vir so ‘n dringende vergadering nie.

“Hoeveel keer het die DA nie vir Stoffels toe hy speaker was gevra vir raadsvergaderings met die nodige aantal handtekeninge nie wat geweier is nie? En dan het hy nie eens ontvangs daarvan erken nie. ”

ANC KIES WEER APRIL

Die 10 ANC-raadslede en die drie ander raadslede het egter voortgegaan met die tweede vergadering en April weer tot burgemeester, Stoffels tot onder-burgemeester en Donson tot speaker verkies.

Klasie Windvogel, ANC-streeksvoorsitter: Suid-Kaap/Klein Karoo, sê die ANC het streng volgens die wet opgetree met alles wat hulle Vrydag gedoen het. “Die wet laat toe dat ‘n meerderheid raadslede mag vra vir ‘n vergadering en nie verhinder mag word nie,” het hy oor die vergadering gesê waar April, Stoffels en Donson verkies is.

 


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434