
Dié vuilgroen water van die NA Smit Swembad en die munisipale swembad by die Kango Bergoord behoort teen Vrydag iets van die verlede te wees, sê die Oudtshoorn Munisipaliteit
Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het dié week onderneem om op te tree teen munisipale amptenare wie se oënskynlike laksheid daartoe gelei het dat die water van die NA Smit Swembad en ’n swembad by die Kango Bergoord in donkergroen ertjiesop verander het.
Verskeie teleurgestelde inwoners het Die Hoorn sedert verlede week gekontak nadat hulle by die NA Smit Swembad in Parkweg voor ’n geslote hek beland het. Op die hek was ’n kennisgewing dat die swembad gesluit is weens “waterbehandeling”.
Die munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, het gister in ’n verklaring gesê die swembaddens behoort Vrydag weer gereed te wees vir swemmers.
Volgens hom is materiaal wat verlede maand bestel is om die water te behandel, nie afgelewer nie. Die munisipaliteit het intussen ontdek dat amptenare nie ’n faktuur van R6 000 van dié diensverskaffer aan die finansiële departement vir betaling deurgegee nie en dat dit waarskynlik tot die vertraging gelei het.
“Ons wil dit duidelik maak dat dié swak optrede deur van ons amptenare nie net die munisipaliteit se reputasie geskaad het nie, maar ook inwoners van die dorp benadeel het,” skryf Mangqwengqwe in ’n sterk bewoorde verklaring.
“Dit is hierdie soort optrede wat daartoe gelei het dat die munisipaliteit diensverskaffers tot R70 miljoen skuld.”
Mangqwengqwe sê die munisipaliteit gaan die voorval ondersoek en dit mag lei tot ’n tugverhoor van die betrokke amptenare.
“ ’n Dringende reëling is intussen getref vir die vinnige aflewering van die nodige materiaal om die swembaddens mee skoon te maak, en inwoners behoort teen Vrydag die swembaddens te kan gebruik.”
Mangqwengqwe sê al die swembaddens beskik oor lewensredders.