
Regs: Die toneel waar ’n wit Ford Focus groot skade in die vroeë oggendure Saterdag veroorsaak het toe dit in die stoep van die Mellville Kafee op Oudtshoorn vasgejaag het. Foto Stefan Goosen
Deur Liesel le Roux
Die Oudtshoorn Polisie het gister die hulp van die publiek gevra nadat Mellville Kafee se stoep Saterdag in die vroeë oggendure ineengestort het toe ’n wit Ford Focus van die pilare wat die stoepdak gestut het, uit die grond gery het. Die stoepdak het hierna op die voertuig ingestort. Die gebou dateer uit die 1800’s.
Die Polisie vra dat enigiemand wat die nag gesien het wat gebeur het, so gou moontlik moet kontak maak met ao Pieter Laubscher van die Oudtshoorn Speurdiens by 044 2039212 of 0829284032
Dié botsing het omstreeks 03:10 plaasgevind.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die bestuurder beheer oor sy voertuig verloor en in die kafee vasgery. Hy het twee passasiers in sy motor gehad. Die polisie ondersoek ’n klag van roekelose en nalatige bestuur.
Videomateriaal van ’n kamera by ’n nabygeleë huis in Hoogstraat toon hoe twee voertuie teen ’n hoë spoed uit die dorp se rigting in Hoogstraat afry en nie by die stopteken op die hoek met Van der Rietstraat stilhou nie.
Volgens ooggetuies het die twee motors kort na mekaar om die draai gekom en kon die tweede een nie sy draai kry nie.
Die Mellville Kafee was in die 1800’s bekend as die Gibbs Drapery Store.
Deesdae jaag mense bykans daagliks oor die vier stoptekens op dié hoek asof hulle nie bestaan nie, sê Liezl Cronje, dogter van die kafee se eienaar, Chris Cronje. Volgens Liezl woon hulle enkele huise van die winkel af en is hulle die nag wakker gemaak deur ’n verskriklike slag toe die motor die winkel getref het.
Een van Hoogstraat se inwoners, Lizanne Pelham, sê motors jaag gereeld laataand in die straat en dat van die inwoners al tien jaar gelede ’n versoek aan die verkeersdepartement gerig het vir ’n spoedwal in Hoogstraat tussen St Saviour en Van Der Rietstraat.
’n Ontstelde Pelham wou op Die Hoorn se Facebookblad weet waarom die polisiebeampte ten spyte van die videogetuienis van “onverantwoordelike bestuur” nie die bestuurder in hegtenis geneem het en hom vir bloedtoetse geneem het nie.
“Maak jul eie afleidings waarom dronk bestuurders in Hoogstraat af jaag van die nagklubs af en daar nooit padblokkades is en bloedtoetse gedoen word nie,” het sy op Facebook geskryf.
Die Oudtshoorn Polisie het nie ’n navraag van Die Hoorn beantwoord oor hoekom daar nie bloed getrek is van die bestuurder van die voertuig nie.