Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444

Calitzdorp kuns haal Sanlam top 40

$
0
0
7 Marinda Combrinck portreta

Marinda Combrinck se portret getiteld “Anna Maria Elizabeth Calitz”. Foto: Verskaf

Deur Stefan Skapie Goosen
’N KUNSTENAAR van Calitzdorp het vanjaar onder die top 40 geeïndig in Sanlam se Portrettoekennings.
Dit is die tweede jaar dat Sanlam tesame met die Rust-en-Vrede galery in Durbanville, Kaapstad, hierdie kompetisie aanbied. Die eerste is in 2013 gehou.
Marinda Combrinck het met haar olie op doek portret, getiteld Anna Maria Elizabeth Calitz, in die top 40 beland ná ’n strawwe beoordelingsproses waar meer as 800 inskrywings van kunstenaars regoor Suid-Afrika ontvang is.
Beoordeelaars het daarna ’n top 100 gekies, en daarna uitgedun tot die 40 beste portrette.
Die portrette word landswyd uitgestal. Tans is die top 40 in Sandton, Johannesburg, by Sanlam se Hoofkantoor te sien.
Dié “reisende uitstalling” sal daarna na Durban gaan.
Marinda beoefen haar kuns reeds die afgelope 20 jaar, waarvan sy al 15 jaar op Calitzdorp woon.
Sy het haar talent by Die Kruin kunsskool in Johannesburg, en Pro Arte School of Art in Pretoria ontwikkel, waar sy ook matrikuleer het.
Daarna het sy Fine Art aan die Pretoria Tegnikon bestudeer.
Sy het daarna in verskeie teaters as dekorskilder gewerk.
“Nadat ek na die Klein Karoo verhuis het, het ek myself begin toespits op skilderye wat geïnspireer is deur die omgewing, die mense en die fauna en flaura,” sê Marinda.
Haar “Portraits of Calitzdorp”-reeks, waaruit haar top 40-inskrywing kom, is ’n projek waaraan sy reeds 13 jaar lank werk.
Om meer oor die Marinda uit te vind kan ’n mens haar besoek by haar studio en galery op Calitzdorp, of haar webtuiste besoek by www.marindacombrinck.co.za


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444