Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Kleyn in getuiebank

$
0
0

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van ’n voormalige voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer en boekhouer van Oudtshoorn wat op 71 klagtes van bedrog tereg staan, is die afgelope Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof tot 25 Januarie 2016 uitgestel.
Die beskuldigde, Rassie Kleyn, wat deesdae in Oos-Londen woon, het Vrydag getuig dat hy op elk van die 71 klagtes ’n verduideliking sal gee. Volgens hom het hy volmag gehad van die eienaar van Camelus Voere wat in 2008 gelikwideer is, om fondse van die firma na sy goeddunke aan te wend en van een rekening na ’n ander oor te plaas.
Kleyn word daarvan aangekla dat hy meer as R8 miljoen vanuit Camelus Voere se bankrekening na sy eie oorgeplaas het.
Volgens hom het die klaer in die saak, dr Stefanus Cilliers, in 2003 “die hele spul” in sy hande gelaat.
”Ek het sambreelmagtiging gehad om geld oor te plaas soos ek goed gedink het.”
Kleyn het die getuienis van ’n geoktrooieerde rekenmeester, Chris Bredekamp, asook ’n interne boekhouer van Camelus, Michelle Pratt, as “onjuis” afgemaak.
Cilliers het Bredekamp in Julie 2008 aangestel om sy boeke na te gaan nadat hy onraad vermoed het.
Volgens Kleyn het Bredekamp “aannames” ge­maak dat hy ’n diensverskaffer was wat sy eie bankrekening opgebou het. “Hy het nie verstaan nie en nie die moeite gedoen om my te vra nie,” het Kleyn getuig.
Volgens hom is dit van kardinale belang om te kyk na transaksies wat deur die rekeninge van Camelus Voere en Avante gevloei het.
“Mnr Bredekamp het nie alles in ag geneem nie en net na bankstate gekyk. Dis ’n fundamentele fout wat hy begaan het en bitter gevaarlik,” het Kleyn getuig.
Op ’n vraag van die assessor, Jeff Stenekamp, het Kleyn gevra dat hy net geduldig moet wees. “Ek sal alles verduidelik,” het Kleyn gesê.
Hy het gesê hy verstaan ook nie Pratt se getuienis nie.
“Ek kan nie glo dat sy getuig het dat sy nie bewus was van oortrokke rekeninge nie. Ons het voortdurend op ’n overdraft gewerk.”
Volgens Kleyn was sy maandelikse bestuursfooi vanaf Maart 2003 tot Oktober 2005 R20 000 per maand plus ’n administrasiefooi van 2%. Hy het egter nie altyd die 2% gehef nie.
Die saak dien voor streeklanddros Mark Van Wyngaard.
• Kleyn was die eienaar van Oudtshoorn Re­ken­kundige & Finansiële Dienste BK, en word daarvan aangekla dat hy Camelus Voere BK bedrieg het en Artikel 64 (2) van die Wet op Beslote Korporasies, Wet 69 van 1984, oortree het. Hy was sedert 1999 die rekenkundige beampte vir Camelus Voere wat vir die finansiële jare 2000 tot 2008 rekenkundige dienste en finansiële bestuursfunksies aan Camelus Voere gelewer het.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434