
Water vanuit Oudtshoorn vir die droogtegeteisterde dele van Suid-Afrika! Brandweerpersoneel van Oudtshoorn het bergplek vir water wat Oudtshoorniete skenk, beskikbaar gestel. Hier is van die brandweerpersoneel, van links Marshall Koopman en Ashton Khumalo en Mornay Thysse regs, Michelle de Lange (middel agter in die swart hemp wat as koördineerder van die waterprojek op Oudtshoorn optree, en ’n groep vrywilligers van die Cango Wildlife Ranch wat ook hand bysit. Foto: Stefan Skapie Goosen
Deur Liesel le Roux
VERSKEIE Oudtshoorniete het in die nuwe jaar betrokke geraak by ’n inisiatief om te help met drinkwater vir dorpe in Suid-Afrika waar die water opgeraak het.
Inwoners kan water afgee by Pick n Pay op die dorp, waarna dit verskuif word na bergplek wat die brandweer beskikbaar gestel het en waarvandaan dit dwarsoor die land versprei word.
Michelle Wolmarans van Oudtshoorn het begin om dié projek te koördineer en werk saam met Water Shortage South Africa wat dwarsoor die land deur Suid-Afrikaners ondersteun word wat hul landgenote in nood wil help. Volg gerus die Facebookbladsy Water Shortage South Africa.
Wolmarans, wat ook die die waarnemende voorsitter is van Act (Animal Care Trust) sê dié dierewelsynorganisasie steun ook die projek. “As dit goed gaan met mense, gaan dit ook goed met diere,” sê sy.
Sy het inwoners aangemoedig om water te skenk. Kontak Wolmarans by 079 148 4858 vir navrae of hulp.