DIE voorval verlede Donderdag op Oudtshoorn waar ’n inwoner opgehoopte vullis op die munisipaliteit se trappe gaan neergooi het, is aanduidend van die vlak van frustrasie onder mense met die situasie by die munisipaliteit.
Dié frustrasie is ’n simptoom van inwoners se moedeloosheid vir tekens van die “herstelproses” wat sou volg toe die Groter Oudtshoorn middel 2015 onder administrasie geplaas is.
In die plek daarvan is Oudtshoorn nou ’n dorp wat verdrink in vullis en vullishope. Daar is weliswaar van die slaggate in die dorp se stukkende strate herstel, maar die oorgrote meerderheid strate val nog uitmekaar. Waterpype is stukkend, op Le Roux Stasie en ander dele in die omgewing was daar verskeie kere die afgelope tyd nie ’n druppel water nie. En intussen is al die amptenare wat in beheer was toe die dorp onder die leiding van burgemeester Gordon April en waarnemende munisipale bestuurder Ronnie Lottering gewankel het, steeds op hulle poste by die munisipaliteit.
Inwoners word gemaan om geduldig te wees. Die dorp se geld is op.
Die Hoorn se waarneming is dat inwoners se geduld egter op is. Hulle wil weet waarheen al die geld is wat “op” is en wie daarvoor verantwoordelik was. Dit is immers hulle – die belastingbetalers – se geld. Hulle wil weet waarom die dorp se strate en infrastruktur nie onderhou word nie.
Die gebrek aan vullisverwydering die afgelope vakansie was vir baie inwoners die laaste strooi. Hulle het hulle geskaam vir hul dorp. So ken hulle nie die plek waar hulle woon en werk nie.
Inwoners wag sedert middel verlede jaar op die uitslag van ’n forensiese ondersoek. Die nuutste gerugte is dat die uitslag die einde van die maand bekend gemaak sal word.
Inwoners hoop op antwoorde. Ons wil nie so skaam wees nie.
↧
Skaam, skaam, skaam
↧