Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Waterkrisis –óf te veel óf te min

$
0
0
5 Water mors 1

’n Inwoner van Riemvasmaak, slegs bekend as Ashwill, tap soos elke ander dag vir die afgelope jaar water uit ’n gat waar daar eens ’n kraan was. Hy moet sy eie pyp gebruik en daar is geen manier om die water toe te draai nie. Foto: Stefan Skapie Goosen

Deur Stefan Skapie Goosen
TERWYL mense in die omgewing van Le Roux Stasie sedert Desember vir lang periodes aaneen sonder water sit, stroom die water in Riemvasmaak vrylik heel dag uit verskeie oop pypye en gate uit. So word duisende liter water weekliks vermors.
CJ Serfontein wat ’n huis huur op Le Roux Stasie, sê dat hy, soos ander inwoners en boere van die omgewing, sedert Desember 2015 weekliks probleme met hul watertoevoer beleef. Volgens hom was hulle Kersdag sonder water, weer van die 31 Desember tot 4 Januarie, én toe weer op 18 Januarie.
“Dit is uiters swak!” sê hy. Volgens hom is al rede wat die munisipaliteit hiervoor aan hom kon verskaf, dat ’n pyp iewers stukkend is en hulle boonop ook nie die inwoners of boere waarsku wanneer die water afgeskakel gaan word nie.
“Ons moet emmers aanhou en kom volmaak in Oudtshoorn vir drinkwater en kosmaak, maar waar verwag hulle dan dat ons moet skottelgoed en klere was? Of bad?” sê-vra Serfontein.
Serfontein het Die Hoorn Dinsdag laat weet dat die water uiteindelik weer aangeskakel is.
In Riemvasmaak lyk dit weer amper asof daar ’n oorvloed water is. Christie Slabbert, ’n besorgde besigheidseienaar op Oudtshoorn, laai gereeld sy werkers op en af in die omgewing van Riemvasmaak.
“Elke dag sien ek hoe die water uit verskillende rigtings net in die stofpaaie afloop en dan ophoop daar onder in ’n klofie. Krane hier is weg en dan maak sommige mense die krane wat daar nog is, nie eens toe nie. Dit loop van sonop tot die son weer sak,” sê Slabbert.
Met Die Hoorn se besoek aan die gebied was dit duidelik dat daar ’n groot probleem is. Rondom elke kraan is dit vuil met poele water wat daar vorm. Waar al hierdie poele se klein afloopstroompies bymekaar kom, is ’n hele dam stilstaande water, toegegroei onder mos en alge en bestrooi met vullis van allerhande soorte. Die reuk hier is ondraaglik en dis bykans ondenkbaar dat dit nie ’n gesondheidsrisiko vir die inwoners kan inhou nie.
Inwoners van die omgewing sê van hierdie krane staan al ’n jaar sonder dat dit ophou loop.
“Dit kan nie so aangaan nie. Ek glo die mense moet ingelig en opgevoed word oor die nadele van wat hier in hul omgewing aangaan. Die munisipaliteit en ook die gemeenskap sal moet saamkom en iets daaraan doen  en baie vinnig,” sê Slabbert.
Slabbert het reeds ’n lys met probleme, vrae én voorstelle aan die pro­vinsiale regering gestuur.
Die Hoorn se navrae oor altwee bogenoemde kwessies is teen druktyd nog nie deur die munisipaliteit beantwoord nie.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434