Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Frustrasie, skaamte oor vullis

$
0
0
Vullis voor muni 2

Die ingang van die Oudtshoorn Munisipaliteit waar ’n gefrustreerde inwoner verlede Donderdag vullis gaan stort het. Foto: Stefan Skapie Goosen

Deur Liesel le Roux
’N INWONER van Oudtshoorn is verlede week met R1500 beboet nadat hy vullis wat oor drie weke lank opgehoop het by Helen Bellinghanhof, ’n ouetehuis op Oudtshoorn, op die trappe voor die Oudtshoorn Munisipaliteit se ingang gaan neergooi het.
Volgens die inwoner, Neels Kelder, is hy die kombuishoof van Helen Bellinghanhof en het die vullis naby die kombuisdeur ’n gesondheidsgevaar vir die inwoners begin skep. Hy sê hy het die munisipaliteit twee keer gebel om die sakke te kom verwyder, en het verlede Donderdag net moeg geraak vir die gebrek aan reaksie. Kelder sê hy het in sy persoonlike hoedanigheid opgetree.
Die vullis is kort ná Kelder se protesoptrede inderdaad deur die munisipaliteit by Helen Bellinghanhof verwyder.
Kelder se protes kom te midde van ’n vullisverwyderingskrisis op Oudtshoorn, met hope vullis wat tydens die onlangse vakansie opgehoop het en volgens inwoners op talle plekke vir drie weke lank nie verwyder is nie. Klagtes oor die haglike toestand van die dorp duur egter steeds voort. Die vullisverwyderingsprobleem word vererger deur inwoners wat argeloos bourommel en vullis op enige oop plek stort.
Kam Chetty, administrateur van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het in reaksie op ’n navraag van Die Hoorn gesê die munisipaliteit is bewus van die uitdagings rondom die skoonmaak van die dorp. “Dié diens moet beter met die beskikbare mannekrag bestuur word. Die Oudtshoorn munisipaliteit sal werk aan beter bestuurspraktyke; en met die daarstel van vennootskappe met die gemeenskap en vrywilligers behoort die inwoners beter resultate te sien.”
Volgens Chetty is daar swartsakke wat tans versprei word. “Die munisipaliteit wil egter ook die gemeenskap aanmoedig om verantwoordelik te wees en nie hul vullis enige plek te stort nie.”
Ntombeko Mangqwenqwe, woordvoerder van die munisipaliteit, sê ’n tekort aan voertuie om vullis te verwyder, dra by tot probleme op die dorp. Slegs twee van dié voertuie kan tans gebruik word aangesien die ander herstelwerk nodig het; iets wat tans nie moontlik is nie weens ’n gebrek aan fondse.
Inwoners stem saam dat Oudtshoorn nog nooit so vuil was tydens ’n somervakansie nie.
Niel Els, voorsitter van Oudtshoorn Toerisme, sê besoekers aan die dorp was en is geskok oor die hoeveelhede vullis wat oral rondlê. “Dit skep ’n groot verleentheid vir Oudtshoorn,” sê hy.
Die voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, dr Johan Strasheim, sê die toestand van die dorp is skokkend. Hy het spesifiek verwys na die hope vullis wat in die omgewing van Riemvasmaak by die ingang vanaf De Rust rondlê.
’n Besorgde besigheidseienaar van Oudtshoorn, Christie Slabbert, het Die Hoorn die week deur die hele dorp geneem, en dit is duidelik dat vullis en rommel al die dorp se woonbuurte vol lê. Elke stukkie veld is in meerdere of mindere mate vol bourommel en vullis, terwyl selfs kanale wat na die Olifantsrivier lei, toelê onder die vullis.
Nog ’n inwoner, Andre Barnard, het op 11 Januarie verskeie foto’s aan Die Hoorn gestuur wat hy tydens ’n oggendstaptog in St Johnstraat geneem het. Hy skryf: “Verstom my oor die vuil strate. Ek kom tot die besef dat Oudtshoorn se mense slagoffers is. Die groot boelie is Oudtshoorn Munisipaliteit. Ons betaal en betaal en geen vooruitgang word waargeneem nie. Die pragtige dorp lyk soos ’n rommelhoop. Geen paaie in die buurte is oor Desember gevee nie. Gaan kyk hoe lyk dit by die De Rust-ingang na Oudtshoorn. Beteken geldtekorte dat ons moet vuil lewe?”
Op 4 Januarie het Christelle Jacobs ‘n foto van vullis op Checkers¬plein gestuur. Sy skryf: “Dit is hoe dit tans agter Checkers lyk. Vieslik. Die water in die pad stink na vrot viswater. Dis om van naar te word.”
Op dieselfde dag skryf Johan Botha aan Die Hoorn: “Oudtshoorn verower die eerste plek in die Suid-Kaap vir die vuilste strate, meeste potholes, meeste padongelukke, padvarke en lastige bedelaars. Die prys word toegeken in die Burgersentrum op ’n datum wat nog bekend gemaak sal word.”
• Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, het nie die week gereageer op verskeie navrae van Die Hoorn nie – onder meer oor die verval en vullis op die dorp te midde van die administrasietydperk wat veronderstel is om herstel na die dorp te bring.
• Die Hoorn wil ’n ernstige beroep op inwoners doen om nie bourommel en vullis te strooi nie en om voor hul bly- en werkplekke skoon te maak. Inligting, registrasienommers en foto’s van mense wat bourommel en vullis stort en wat aan ons beskikbaar gestel word, sal ons deurstuur na die munisipale wetstoepassingsafdeling vir optrede.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434