Deur Liesel le Roux
VIER partye, die DA, ANC, Umpa en Sarco, het kandidate genomineer vir die tussenverkiesing wat op 24 Februarie in Wyk 6 op Oudtshoorn plaasvind.
Nominasies het die afgelope Maandag gesluit.
Dit volg nadat dié wyk in Bridgton vakant geraak het met die dood van die ANC-wykraadslid, Veronica Williams (49), op 15 Desember 2015.
Die naam van die DA se kandidaat, Jerome Lambaatjen, is reeds in Januarie bekend gemaak. Volgens Jaco Londt, kiesafdelingshoof van Oudtshoorn, is die DA is tevrede dat die party ’n uiters bekwame kandidaat vir die kiesers bied.
Cornelia Blauw, sekretaris van die Unemployed People’s Association (Umpa), het verlede week bekend gemaak dat die party ook aan dié verkiesing gaan deelneem. Die kandidaat vir Umpa is Susan (San) Meyer.
Die ANC se kandidaat vir die tussenverkiesing is Frank Moos. Klasie Windvogel, ANC-streeksvoorsitter: Suid-Kaap/Klein Karoo, sê Moos is ’n hardwerkende en toegewyde man.
Dit sal die derde tussenverkiesing op Oudtshoorn wees sedert November verlede jaar.
Kiesers in Wyk 2 het op 11 November na die stembus gegaan, en kiesers van Wyk 13 op 9 Desember.
In beide gevalle het die DA die tussenverkiesings gewen.
Die DA het tans 12 raadslede en die ANC nege, met Cope, die NPP en Icosa een elk.
↧
Wyk 6: Vier partye benoem kandidate
↧