
Die twee opgeleide springstofhonde wat uit George gebring is om Shoprite vir tekens van ’n bom deur te snuffel, en hul hanteerders by die ingang van Shoprite. Foto: Stefan Skapie Goosen
Deur Stefan Skapie Goosen
MINDER as drie weke ná ’n vals bomdreigement deur Shoprite in Hoogstraat, Oudtshoorn, ontvang is, het die winkel Dinsdag wéér ’n bomdreigement ontvang, en moes die hele winkel wéér ontruim word sodat opgeleide springstofhonde die perseel kon deursoek.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die bestuurder van Shoprite omstreeks 13:54 ’n oproep ontvang van ’n man wat na homself verwys het as “Bin Laden” en gesê het daar is ’n bom in die winkel.
“Die bestuurder het onmiddelik die winkel ontruim en die Polisie in kennis gestel. Met die Polisie se aankoms is die winkel afgesper,” het Michaels gesê.
Twee springstofhonde is uit George ontbied om die winkel deur te soek, maar geen bom is gevind nie.
Volgens Michaels ondersoek die polisie ’n klag van ’n valse bomdreigement.
Talle Oudtshoorniete het buite Shoprite saamgedrom toe hulle van die dreigement gehoor het.
Net die gedeelte van Hoogstraat voor Shoprite is dié keer afgesper teenoor die vorige geval waar groot dele van Hoog- en St Johnstraat afgesper is.
Die eerste voorval het op 7 Julie plaasgevind en volgens Michaels is nog geen verdere leidrade in verband met daardie saak gevind nie.
Sarita van Wyk, kommunikasiebestuurder van die Shoprite-groep, het by navraag van Die Hoorn oor wat die groep dink die oorsaak van die dreigemente is, wie daarvoor verantwoordelik is en wat hulle as winkel/groep doen om klante en personeel te beskerm, gesê Shoprite kan nie enige alternatiewe inligting byvoeg nie omdat die voorvalle deur die polisie ondersoek word. “Noodmaatreëls in belang van die beveiliging van Shoprite se klante, personeel en eiendom is in plek, maar word om veiligheidsredes as vertroulik hanteer.”