Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Talle wenners by agste Klein Karoo Klassique!

$
0
0
Noluvuyiso Mpofu.

Noluvuyiso Mpofu.

Erik Dippenaar.

Erik Dippenaar.

ONDER die vele bekroonde kunstenaars vanjaar by Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn tel ’n Grammy-wenner, ’n Sama-wenner, wenners van groot internasionale en plaas­like klassieke musiekkompeti­sies, asook die wenner van twee boekpryse. Dié fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn word van Vrydag tot Sondag, 12 tot 14 Augustus, vir die agtste keer aangebied.
“Ons sien daarna uit om dié uit­eenlopende bekroonde kunstenaars op Oudtshoorn te verwelkom, en ge­hore kan ’n diverse klassieke mu­siekprogram verwag. Dit is nie aldag dat liefhebbers van klassieke musiek soveel formidabele kunstenaars in die Klein Karoo kan sien nie,” sê Hugo Theart, kreatiewe hoof van Klein Karoo Klassique.
Een van die hoogtepunte is die optrede van die Suid-Afrikaanse fluitspeler, Wouter Kellerman. Kellerman het in 2014 die Grammy vir die beste New Age-album gewen. Hy het ook reeds ses Sama-toekennings gewen, die mees onlangse een vir beste instrumentale en/of klassieke album in 2016.
Kellerman voer op Saterdag, 13 Augustus, om 18:00 saam met Luke van der Merwe (kitaar), Phresh Ma­khene (baskitaar en sang) en Della Tamin (kitaar en sang) die Franse barok-komponis Marin Marais se Folies d’Espagne, Antonio Vivaldi se Winter, Brian Boru se March en Kellerman se eie moderne klassiek geïnspireerde Buenos Aires, The Long Road, Sylvia, Half Moon, Wind, Samami en Notre Futur uit.
Klassique eindig met die ATKV Afsluitingskonsert, ’n pragkonsert waar drie bekroonde kunstenaars vir die eerste keer saam optree. Sopraan Noluvuyiso Mpofu het vanjaar ’n algehele tweede plek tydens die Hans Gabor Belvedere Internasionale Sang­kompetisie – een van die grootste sangkompetisies in die wêreld – ontvang. Sy is ook tydens dié kompetisie met die gehoorprys én prys as beste Suid-Afrikaanse deelnemer bekroon. Mpofu was in 2015 die wenner van ATKV-Muziqanto.
Klarinetspeler Junnan Sun, algehele wenner van ATKV-Muziq in 2015, sluit by haar aan. Die Suid-Kaap Kinderkoor, onder die leiding van Jan-Erik Swart, tree saam met Mpofu en Sun op. Dié koor is vanjaar as wenners van die Europese Mu­siek­fees vir jongmense in België aangewys.
Die ATKV Afsluitingskonsert word op Sondag, 14 Augustus, om 12:00 aangebied, met musiek soos Verdi se È strano! uit La Traviata en dele uit Mozart se Klarinet Concerto, bekend as deel van Out of Africa se temamusiek.
Kitaarspeler James Grace, in 2011 beloon met die kykNET Fiësta vir beste prestasie in klassieke musiek en Kanna-wenner as beste manlike kuns­­tenaar by die KKNK in 2010, speel musiek van sy Sama-genomineerde albums, sowel as nuwe, oorspronklike interpretasies uit sy kon­- sert Guitar Hero en Spaanse komposisies deur Albeniz, Rodrigo en Tárrega. Sy uitvoering vind op Saterdag, 13 Augustus, om 09:30 plaas.
Erik Dippenaar (klavesimbel) is ’n gevierde musikant en het die Kanna vir beste klassieke musiekuitvoering tydens die KKNK in 2016 ontvang. Hy is op Sondag, 14 Augustus, om 10:00 te sien in Baroque Trio: Handel in die Voorkamer met musiek deur die komponis GF Handel. Dit sluit verwerkings van Music for the Royal Fireworks, die Harmonious Blacksmith klavesimbel-suite, gewil­de opera-arias en kamermusiek in.
Daar is ook vanjaar  ’n bekroonde skrywer op die verhoog. Stephanus Muller, professor by die konservatorium van die Universiteit Stellenbosch, se Arnold van Wyk-biografie, Nagmusiek, is in 2015 bekroon met die kykNET/Rapport-prys vir nie-fiksie, sowel as die UJ debuutprys. Muller lees op Saterdag, 13 Augustus, om 15:00 voor uit Nagmusiek, saam met Grethe Nöthling (klavier) en Matildie Thom Wium (mezzo-sopraan).
• Kaart­jies vir die fees is te koop by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home.
• Vir meer inligting gaan na www.klassique.co.za.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434