Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Jong man op dorp ontvoer: Gedreig met handgranaat

$
0
0
Martin Karelse (20) en sy ma, Magdalena. Foto: Stefan Skapie Goosen

Martin Karelse (20) en sy ma, Magdalena.
Foto: Stefan Skapie Goosen

Deur Stefan Skapie Goosen
VERBEEL jou iemand forseer jou om in sy voertuig te bly en jaag weg met jou, plaas later ’n handgranaat in jou hand en dreig om jou te skiet as jy nie die pennetjie trek nie…
Dit is waar­deur Martin Karel­se (20), van Bridgton Sondagaand moes gaan toe ’n man hom na be­wering op ’n angsrit deur Oudtshoorn geneem het. Die man is volgens Karelse van die weermag.
Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudts­hoorn Polisie, het die voorval bevestig. Volgens hom het die beweerde ontvoering omstreeks 19:30 plaasgevind en is ’n 30-jarige man later Sondag in hegtenis geneem. Die polisie ondersoek klagtes van men­seroof, ernstige aanranding, die rig van ’n vuur­wapen en die onwettige besit van ’n ploftoestel. Visser kon egter nie bevestig dat hy ’n lid van die weermag is nie. Die man het Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn en is op borgtog van R20 000 vrygelaat.
Karelse sê hy het in die man se kar geklim waar 11de, 12de en 13de Laan bymekaarkom nadat die man hom gevra het of hy weet waar ’n “tiklollie” te koop is. “Ek het later besef dat dit nie baie slim van my was nie,” vertel Karelse.
Intussen het iemand anders in die straat na bewering die man se selfoon geroof en weggehardloop. Karelse sê hy het sy hulp aangebied om die selfoon terug te kry en wou uitklim. “Maar hy wou nie en het met my weggejaag. Hy het my na ’n plek naby die Infanterieskool geneem, waar hy, ’n ander man en twee vrouens gebly het. Hy het uitgeklim, sy geweer op my gerig en vir my gesê: ‘Jy, n**i, kom hier,’ ” vertel Karelse.
Dit is hier waar die man volgens Karelse ’n hand­granaat in sy hand gedruk en ’n vuurwapen op hom gerig het met die opdrag om die pennetjie te trek. “Ek het net ’n groot vrees binne my gevoel,” sê Karelse. Hy is ook met ’n mes agter die linkeroor gesteek.
Volgens Karelse het die man se vriend hom probeer keer, maar het die man hom nog minstens twee keer gedreig – dat hy hom sou skiet en ook van ’n balkon sou afgooi. “Jy gaan nou sien wat maak ek met jou,” het die man na bewering gesê.
Volgens Karelse het die man hom ook na die weermagbasis geneem waar hy voertuie geruil het. “Hy het my nadat hy ’n oproep ontvang het, in ’n wit Volkswagen Polo gedruk en na die polisiekantoor geneem,” sê Karelse. Hy sê hy weet nie hoe­kom die man dit gedoen het nie.
’n Navraag oor die voorval is aan die SANW gestuur, maar teen druktyd is geen reaksie ontvang nie. (Lees ook ‘Ek het gedink hulle gaan my kind doodmaak’ op bl 2.)


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434