
Kiyoshi Okumura, president van die maat-skappy Miyuki Keori, oorhandig die grootkampioen-sybokhaartrofee aan die Prins Albertse boer Jordi van Hasselt. Foto: Verskaf deur Sybokhaar SA
Deur Marlene Malan
VAN HASSELT BOERDERY BK van Prins Albert, die eiendom van die ma-en-seun-span Gay en Jordi van Hasselt, is vir die tweede agtereenvolgende jaar as die toonaangewendste sybokhaarprodusent in Suid-Afrika bekroon. Dit is die vierde keer dat hulle hierdie prys ontvang.
Gay en Jordi is die wenners van die 2015-Miyuki Keori-sybokhaartrofee, die grootkampioenprys vir sybokhaarprodusente wat die bes geklasseerde sybokhaarskeersel lewer. Hulle is gevolg deur Barries Snijman van die plaas Vleikuil in Rietbron, wat die reserwe-grootkampioen-toekenning ontvang het.
Die prys vir die kampioen-somerskeersel is toegewys aan FE (Billy) Colborne & Seuns van Willowmore, terwyl Driehoeksfontein Boerdery van Frans Retief van Murraysburg die prys ontvang het vir die kampioen-winterskeersel.
Sarel du Plessis van De Rust het die toekenning ontvang vir die mees volhoubare produksie.
Volgens Robyn Rütters, hoof van media en kommunikasie van Sybokhar SA, is Suid-Afrika die primêre produsent van topgehalte-sybokhaar in die wêreld.
Die pryse is op 17 Augustus tydens ’n skemerkelkgeleentheid in Port Elizabeth oorhandig.
Rütters sê die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf en Miyuki Keori, ’n toonaangewende Japanse kleedstofwewer, het in 1980 kragte saamgesnoer om erkenning te gee aan sybokhaarprodusente. “Die doel van dié samewerking is om Suid-Afrikaanse sybokhaarprodusente aan te moedig om hul aanbieding en gehalte van skeersel te handhaaf en te verbeter. Dit gee ook erkenning aan boere met die mees volhoubare sybokhaarproduksie.
“Die Van Hasselts se skeersels vir hierdie kompetisie word vir beide hulle somer- en winter-Angorabokhaarskeersels beoordeel. Hulle sukses word grootliks toegeskryf aan selektiewe teling en noukeurige klassering van hul skeersel, maar sou nie haalbaar gewees het sonder besonder harde werk en toewyding onder die leiding van Gay van Hasselt nie. Sy is ’n uiters dinamiese boer wat onberispelik is in haar boerderyonderneming. Die kombinasie van haar kennis en dryfkrag, saam met die innoverende idees en entrepreneurskap van Jordi, sowel as die bemarkingsinisiatiewe van haar dogter, Frances, laat die vooruitsigte vir Van Hasselt Boerdery blink.”
Daar is ongeveer 1 000 sybokhaarpdousente in Suid-Afrika, sê Rütters.
“Die Karoo-klimaat en -plantegroei is ideaal vir Angorabokboerdery. Die grootste produserende dorpe is Willowmore, Aberdeen, Graaff-Reinet, Jansenville en Rietbron.”
Volgens Andrew Laing, direkteur van Sybokhaar SA, “was dit interessant dat drie van die ses finaliste in die Wes-Kaap boer; dit terwyl die Oos-Kaap die grootste sybokhaarproduserende provinsie is”.
Van Hasselt het gesê sy is dankbaar vir hul prestasie en vir die belangstelling in hul boerdery.