Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Gesinsgeweld – geheime misdaad

$
0
0
Badisa se maatskaplike werkers in Prins Albert het ’n drama opgevoer wat ge­sinsgeweld uitbeeld. Van links is Justin Peers, Melissa Strydom, Melanie Hen­dricks, Marie-Louise van Heerden, Corley Mentoor. Foto: Marlene Malan

Badisa se maatskaplike werkers in Prins Albert het ’n drama opgevoer wat ge­sinsgeweld uitbeeld. Van links is Justin Peers, Melissa Strydom, Melanie Hen­dricks, Marie-Louise van Heerden, Corley Mentoor.  Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
Die hartseerste van gesinsgeweld is dat dit agter geslote deure gebeur en die samelewing dié misdaad rasionaliseer en selfs aanvaar, sê ds René Potgieter van die NG kerk Gamkavallei in Beaufort-Wes. Sy spesialiseer in gesinsgeweld en gesinsberading
Potgieter het verlede Donderdag in die VGK-saal opgetree by die algemene jaar­vergadering van die Prins Albert-tak van Badisa, waar die tiende bestaansjaar van dié landwye organisasie terselfdertyd gevier is.
Potgieter, met kwalifikasies in siel­kun­de, kinderleiding en berading, het gesê sy het ’n passie vir gebroke gesinne, “omdat dit die kwesbaarstes in ons samelewing is wat hieronder ly – mense wat nie emosioneel sterk genoeg is nie”.
Gesinsgeweld word volgens haar nie beperk tot die tradisionele gesin nie. “Dit kom net so dikwels voor in hersaam­gestelde gesinne, ná egskeidings en in saamblyverhoudings. Dit kan gedefinieer word as enige gedrag wat iemand gebruik om iemand anders –  met wie hy of sy in ’n verhouding is – te beheer of verneder”.
Dis ’n mite dat gesinsgeweld net fisiek is – dit wil sê om iemand te slaan, sê sy. “Dit sluit ook seksuele geweld en siel­kundige, verbale en ekonomiese mishandeling, asook obsessionele besitlikheid of jaloesie in – gedrag waar jy die mense na aan jou geen ruimte toelaat nie en beheer van hul lewe uitoefen.”
Sowat een uit vier Suid-Afrikaanse vroue word mishandel, maar net 40% van dié groep meld dit aan, sê Potgieter. “Dis ’n vretende kanker in ons samelewing wat al hoe erger word. Al hoe meer gesinne en weerlose vroue en kinders ly hieronder. Maar daar is ook mans wat mishandel word deur hulle vroue, hoewel dit minder algemeen is. Die ongeluk is dat polisie­statistiek gesinsgeweld bloot onder “aanranding” klassifiseer,” volgens Potgieter.
Om teenoor jou maat of kinders woor­de kwyt te raak soos “Kyk hoe lyk jy!” of “Wat het jy nou weer gedoen!” of “Dis jóú skuld!” is emosionele mishandeling. Om geld van jou gesinslede te weerhou – wat veral ná egskeidings gebeur – of om maatskaplike toelae, soos All-pay, te wan­bestee, is ekonomiese mishandeling.
“Die ergste is die verskoning wat vir sulke ge­drag gemaak word, onder meer dat die mis­handelaar ‘maar so grootgeword het’ of ‘dat hy onder geweldige druk werk’ of ‘dat ’n huwelik geweldige eise aan jou stel’. Ek sê daar is géén versko­ning vir enige vorm van mishandeling van jou gesinslede nie.”
Volgens Potgieter is geweld, mishandeling en molestering binne die gesin “deel van ’n siek samelewing. In sekere ge­sinne word dit ’n leefwyse van geslag tot geslag – kinders sit voort wat hulle by hul ouers leer.”
Van die oorsake is swak geestesgesondheid, jaloesie, ’n aggressiewe persoonlik­heid, ’n swak selfbeeld, alkohol- en dwelm­misbruik, seksuele frustrasie, werks­onbevrediging, werkloosheid en armoede.
“Kinders wat mishandel word, toon simptome soos voortdurende fisieke on­ge­steldheid, nagmerries, bednatmaak, as­ook swak skoolprestasie en aggressie en gewelddadigheid by die skool. Dis vir sulke kinders ’n verskrikking om te sien hoe hul pa hul ma slaan.”
Vroue wat onder geweld gebuk gaan, gee ook nie altyd pad uit so ’n situasie nie, sê Potgieter. “Dis omdat die mishandelaar fisieke, emosionele en geldelike mag uitoefen en haar dreig dat sy haar woonplek en kinders sal verloor. So ’n vrou begin dan dink: Miskien verdien ek dit.”
Mense wat in gesinsgeweld vasgevang is, moet weet daar ís hulp vir hulle. “Oorwin jou vrees en klop aan by Badisa. Skei is nie ’n skande as jy in so ’n situasie is nie. Niemand hoef vir die res van hul lewe hiermee saam te leef nie.”


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434