Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Gerugte van ’n ‘goue handdruk’ is nie waar nie

$
0
0

HARDNEKKIGE gerugte wat versprei word dat die voormalige munisipale bestuurder, Ronnie Lottering, ’n “goue handdruk” by die munisipaliteit gekry het, is onwaar.
Die Hoorn het nadat ons die volgende anonieme sms van ’n leser ontvang het waarin die beweringe ook gemaak word, dit aan die waarnemende munisipale bestuurder, Allen Paulse, voorgelê vir reaksie.
Die sms lees: Volgens gerugte het Lottering ’n R1,8 miljoen goue handdruk ontvang plus drie maande se salaris van die bankrot munisipaliteit om hom te bedank vir sy wandade, of is dit om sy mond te hou oor wandade van die DA.
Paulse het as volg gereageer:
“Die gerugte wat tans bestaan dat Ronnie Lottering ’n ‘goue handdruk’ van R1,8 miljoen ontvang het, is ongegrond. Soos vroeër berig, het mnr Lottering ’n uitbetaling van drie maande se salaris ontvang, soos ooreengekom tussen die twee partye. Die Munisipaliteit hou vol dat die ooreenkoms wat bereik is met mnr Lottering die belastingbetaler duisende rande gespaar het.
“Teen die tyd wat die ooreenkoms bereik is, was die dissiplinêre saak byna ’n derde voltooi. Mnr Lottering het ’n salaris ontvang terwyl hy geskors was. Met sy laaste verhoor in Augustus vanjaar het mnr Lottering se regspan reeds ’n versoek vir uitstel tot Desember ingedien. Dit impliseer dat mnr Lottering gewaarborg sou wees van ’n salaris vir minstens vier maande tot sy volgende verskyning. Die munisipaliteit het dus besluit om drie maande se salaris in plaas van vier maande se salaris uit te betaal.
“Indien die ooreenkoms met mnr Lottering nie bereik is nie, sou hy ’n salaris ontvang het vir die volgende sewe maande of meer. Ons wil graag beklemtoon dat geen goue handdruk ooit aan mnr Lottering oorbetaal is soos beweer word nie.”
Die Hoorn wil lesers aanmoedig om nie hul ore vir gerugte uit te leen of alles wat hulle op sosiale media lees, te glo nie. Probeer waar moontlik om altyd bronne te kontroleer.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434