
Meiringspoort en mense, Saterdagoggend, met die wegspring van die 12,5 km-wedloop. Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
Ettiene Plaatjies, bekende langasem van Oudtshoorn, het Saterdag weer die Meiringspoort Halfmarathon gewen. Hy het die wedloop in ideale weersomstandighede in 01:07:10 afgelê.
Plaatjies het ná die wedloop gesê hy is tans nie in topvorm nie en het al beter tye oor dié afstand gehardloop.
Hy het nogtans John April, wat tweede was in 01:10:59 met meer as 3 min geklop.
Die 12,5 km-wedloop is deur Godwin Heyns van Mosselbaai in 41 min 10 sek gewen.
In die meestersafdeling (50-59) was nog twee Oudtshoorniete, Jason Jafta (50:56) en Tony Cleophas (52:55) onderskeidelik eerste en tweede. Jafta was algeheel 9de en Cleophas algeheel 11de.
Die veterane-afdeling (40-49) is deur Booi Salman gewen in 43:25. Hy was algeheel tweede.
Anel van Wyk was die eerste vroueatleet van Oudsthoorn oor die wenstreep van die halfmarathon. Haar tyd van 01:24:06 was haar beste nóg oor dié afstand, sê sy. Haar tyd verlede jaar was 1:26:59.
Nog ’n bekende vroue-atleet van Oudtshoorn, Cecilia Swiegers, het die grootmeestersafdeling (70+) vir vroue in 01:34:27 gewen.
Volgens Bernard Delport, een van die organiseerders, neem die gewildheid van die Meiringspoort-wedlope jaarliks toe. Saterdag het 1 919 deelnemers die 21,1 km voltooi en 1 002 die 12,5 km. “Dit is die meeste nóg sedert die eerste wedloop in 1993 aangebied is,” sê hy.
Die oudste deelnemer vanjaar aan die 12,5 km was 86-jaige Anthony Goodman van die Wanderersklub in Johannesburg. In die 21,1 km was Schalk Bezuidenhout (83) die oudste.