Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Speurder sterf toe bakkie rol

$
0
0
Lt kol Christo Serfontein saam met sy twee dogters, Malandi (links) en Bianca. Foto: Verskaf

Lt kol Christo Serfontein saam met sy twee dogters, Malandi (links) en Bianca.  Foto: Verskaf

Deur Stefan Skapie Goosen
DIE afsterwe van lt kol Christo Serfon­tein (53) van Oudtshoorn in ’n ongeluk Sondagaand gaan nie net ’n leemte laat in die lewens van sy gesin nie, maar volgens sy kollegas ook in Oudtshoorn se speurtak en poli­siegemeenskap.
Volgens kapt Louis Visser, woord­voerder van die Oudtshoorn Polisie, was Serfontein verbonde aan die Oudtshoorn Polisie se speurtak. Hy was voorheen die bevelvoerder van die veediefstaleenheid op Oudtshoorn.
“Die Polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n bakkie die Welgelukpad omstreeks 20:00 verlaat en gerol het. Dit is nog nie duidelik wat die oorsaak van die ongeluk was nie, maar die Polisie kan bevestig dat daar net een voertuig betrokke was,” het Visser gesê.
Brig Levona Januari, stasiebevel­voerder van die Polisie op Oudtshoorn, sê in die kort tyd wat lt kol Serfontein op Oudtshoorn was, “het hy ’n groot verskil gemaak”. Volgens Januari het sy gereeld saam met Serfontein gewerk en weet sy sy afwesigheid sal beslis ’n leemte laat wat moeilik gevul gaan word.
“Sy ondervinding en kundigheid was van groot waarde. Ek glo en vertrou sy nalatenskap gaan steeds ’n impak op ons werksaamhede hê,” het sy gesê.
Serfontein word oorleef deur sy vrou, Yolandi, en twee dogters, Bianca (25) en Malandi (20).
Volgens Bianca was haar pa ’n harde, groot en sterk man met die kleinste hart. “Ons was sy trots en ooral waar hy gegaan het, het hy gebrag oor sy twee prinsessies. Hy was ons rots, ons held, ons alles,” het sy aan Die Hoorn gesê.
Bianca beskryf haar pa onder meer as ’n nederige man wat altyd gehelp het waar hy kon. Hy was hardwerkend en het vir geen uitdaging teruggestaan nie.
“Hy het altyd ook tyd gehad vir ’n grappie of twee.
“Die verlies is groot en die hartseer sal nie gou oorwaai nie, maar hy sal voortleef in ons harte.”
Bianca sê die Serfontein-gesin wil ook graag dankie sê vir die SAPD se bystand, en vir elke oproep of boodskap wat van die gemeenskap ontvang is. “Dit het ons net weer opnuut laat besef hoe baie mense se lewens my pa aange­raak het en hoe baie mense hom lief gehad het.”
Wessel Bower, wat jare lank met Serfontein bevriend was en by tye saam met hom gewerk het, het benadruk dat Serfontein se afsterwe ’n groot verlies vir familie, vriende en kollegas is.
“Ek ken hom al jare. Van ons kinders was saam op skool. Christo was ’n baie goeie mens en speurder wat geliefd en gerespekteer was deur almal wat saam met hom gewerk het,” het hy gesê.
Volgens Bower wil dit uit die nadood­se ondersoek blyk dat Serfontein moontlik ’n hartaanval gekry het, en dit aanleiding tot die ongeluk kon gegee het.
’n Diens vir Serfontein word Saterdag (5 November) om 11:00 in die NG Kerk Volmoed gehou.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434