Onaanvaarbaar hoe morsig mense nou is
Morsjorse 1
Ek het pas ’n ronde deur Oranjestraat, Parkweg en Albert-, Buitekant- en Bloemstraat voltooi. Dis vir my absoluut onaanvaarbaar om te sien hoe morsig ons mense geword het. Vullis op die sypaadjies, afgekapte struike en boomtakke, meterhoë onkruid, vullis wat deur munisipale werkers op hopies gevee is en net so gelos word.
In Parkweg-Suid vanaf Oranje- tot Albertstraat word tuinvullis en bourommel oorkant die straat teen die heining gestort! Ek het al die huisnommers opgeskryf. Ek wil weet – wie dink die betrokkenes moet hul vullis wegry?
Ook die munisipale werkers is skuldig aan morsery; oral waar hul waterpype en sypaadjies herstel, word ge- breekte betondeksels en ander bourommel vir maande op die sypaadjies gelos; dit terwyl hulle mense en trokke byderhand het om dit skoon te maak.
Ek gee hierdie morsjorse sewe dae vanaf vandag voordat ek hul adresse bekend sal maak.
U het sewe dae om vullis te verwyder of die foto’s van u huise met adres sal ten toon gestel word.
Ek rig ook ’n versoek aan ons munisipaliteit om asb skoon te maak. In Tautestraat lê gebreekte betondeksels al meer as ses maande op die sypaadjie waar u dit gelos het. Die gate in ons straat is al vyf jaar oud en word nou dongas. Ons ry nou soos dronk mense om dit te mis!
Ons dorp kan alleen in sy vroeëre glorie herstel word as elkeen sy pligte getrou en ordentlik uitvoer.
Die eerste 100 dae onder die nuwe bewind het my hoop laat opvlam, maar nou lyk dit my het die wiele weer afgeval. Ek hoop regtig ek is verkeerd op hierdie punt.
Morsjorse 2
Twee weke gelede was daar ’n baie groot senior atletiekbyeenkoms op die atletiekbaan van die De Jager Sportstadion. Maandagoggend 05:30 was die fasiliteite skitterskoon!
Dankie aan die onderwysers en atlete in beheer.
Verlede Saterdag was dit die junior atletiekbyeenkoms. Maandagoggend 05:30 was hierdie baan ’n “varkhok”!
Skandelik, diegene wat in beheer was!
Geen wonder ons dorp se strate lyk ook somtyds so nie.
Terselfdertyd sommer my uitspraak en waarnemings oor mense wat onder die bome van Vredestraat kom sit en hulle oorhoeks drink, KFC of Steers eet, en al die bottels en houers net so uit hul motors gooi en onder die invloed van drank wegry! Waar is die verkeersdepartement wat so graag kameras rondskuif?
Mense, asseblief, gaan mors en suip by jou eie plek! Of neem jou vullis saam en gooi dit in die naaste vullisdrom. Die mense van die omgewing het dit nie nodig nie! Sal nogal graag wil sien hoe jul huise en persele lyk!
My oorlede pa het die volgende gesegde gebesig: Van bo blink en van onder stink! Nogal ’n gepaste gesegde van meeste mense deesdae.
My hele vete gaan oor een ding: netheid en skoonheid,want dis hoe ek grootgemaak en opgevoed is.
Baie jare gelede het die bekende evangelis Jimmy Swaggart ’n groot byeenkoms op Ellispark gehou. Hy het ’n baie ongewilde uitspraak gemaak wat wraggies profeties waar was: South Africa will turn into a rubbish dump if it does not return to God Almighty.
Nou het ons dorp vir dorp, stad vir stad in vullishope verander. Ergste is, dis vir baie mense doodnormaal! Diegene wat landwyd reis, weet waarvan ek praat!
Kan Oudtshoorniete nie asb maar ’n uitsondering wees nie? Dit sal menige van ons se harte verbly as ons kan saamstaan en hierdie euwel uitroei. Die munisipaliteit kan dit net doen as almal van ons saamstaan en saamwerk.
– Nico Ungerer, Oudtshoorn
The post Briewe / Letters appeared first on DieHoorn.