Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444

KKNK-klippe bring feesgangers se kuns na ’n koppie buite Oudtshoorn

$
0
0
Die koppie buite Oudtshoorn terwyl die klippe gepak is wat feesgangers geverf het.

Die koppie buite Oudtshoorn terwyl die klippe gepak is wat feesgangers geverf het.

Deur Ilze-Mari Gründling
VANJAAR se 23ste KKNK het kleurvolle en kunstige spore op die Karoolandskap agtergelaat met ’n klipinstallasie teen ’n koppie net buite Oudtshoorn by Chandelier. Die klippe spel die woorde Oudtshoorn Kuns wen.

Talle feesgangers en selfs kunstenaars en ander bekendes het tydens die fees klippe in Baron van Reedestraat geverf.

Die projek was ’n inisiatief van Absa.
“Ons glo dat kuns nie eksklusief is nie, en dat almal dit kan waardeer en help om dit te skep,” sê Adam

Brooke, Absa se borgskapbestuurder.
Dié klipverwery het vanjaar ’n spesiale pad oopgemaak vir ’n graad 12-leerder wat by die projek gewerk het.

Lonel Fivaz (17) van die Hoërskool Oudtshoorn se kunstalent is raakgesien deur Brooke toe hy op soek was na klippe wat kreatief geverf was om aan Oudts­hoorn se burgemeester, Colan Sylvester, die KKNK se uitvoerende hoof, Rhodé Snyman en Gerrie Ferreira, eienaar van Chandelier, te oorhandig. Hy het twee klippe opgemerk wat Lonel geverf het.

“Ek het haar gevra om ’n derde klip te verf, wat deel van die oorhandiging kon wees en haar vernuf het my verbaas,” sê Brooke. Hy het besluit om haar aan die KKNK se visuele kunskurator, dr Paul Bayliss voor te stel. Bayliss het gehou van haar werk en aangebied om haar met haar loopbaan by te staan.
Hy is tans besig om reëlings met ’n Oudtshoorn-kunstenaar te tref om as haar mentor op te tree, terwyl sy haar skoolloopbaan voltooi.

Absa het haar ook as ’n gas na die Absa L’Atelier-kompetisie in Johannesburg genooi, waar sy die Absa-galery gaan besoek en tyd saam met die 2014 L’Atelier-wenner en kurator van The Confessional (’n kunsuitstalling by die KKNK in 2017), Liberty Battson, gaan span­deer.

“Absa is baie opgewonde om jong plaaslike kunstalent te ontdek en sien daarna uit om Lonel se talent te ontwikkel en hopelik haar loopbaan in die kunste te sien floreer,” sê Brooke.

Lonel sê sy is baie opgewonde oor die geleentheid, aangesien sy nog nooit in Johannesburg of op ’n vliegtuig was nie.

“Alles het so vinnig gebeur en dit is beslis iets wat ek nooit gedink het met my sal gebeur nie. Ek sien daarna uit om al die talentvolle kunstenaars te ontmoet en hoop dat hierdie geleent­heid my kunsloopbaan sal vorm,” sê sy.

Bayliss ondersoek ook die moontlikheid om haar as kurator van ’n uitstalling deur jong kunstenaars in 2018 by die KKNK in te span.

Lonel wil na skool onderwys, met ’n spesiale fokus op kuns, studeer aangesien sy graag met kinders wil werk

The post KKNK-klippe bring feesgangers se kuns na ’n koppie buite Oudtshoorn appeared first on DieHoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444