Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444

Oudtshoorn- en Kaapse familie rou ná 9-jarige weens fratsongeluk sterf

$
0
0
Josh Pharaoh (9). Foto: Facebook

Josh Pharaoh (9). Foto: Facebook

Deur Liesel le Roux
DIE Polisie ondersoek tans die omstandighede waaronder die 9-jarige Josh Pharaoh tydens die KKNK in ’n militêre voertuig geval en ernstige kopbeserings opgedoen het.

Josh, seun van Nicole en Ryno Cedras van die Paarl, is Sondag omstreeks 02:15 in die Life Bayview Hospitaal in Mosselbaai oorlede.

Hy is Vrydag in ’n fratsongeluk beseer terwyl hy die SANW se feesuitstalling by vanjaar se KKNK op Oudts- hoorn besoek het.

Josh is na die Klein Karoo Medi-Clinic gehaas en daarna na die Life Bayview Hospitaal oorgeplaas, maar het gesterf sonder dat hy sy bewussyn herwin het.

Josh kom uit ’n familie met noue Oudtshoorn-bande en het dikwels by sy Oudtshoorn-familie – Michael en Karen April en hul gesin – gekuier. Karen is sy ouma, Heidi Pharaoh, se suster.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woord­voerder van die Suid-Kaap Polisie, is die polisie besig met ’n geregtelike doodsondersoek en sal ’n nadoodse ondersoek ook gedoen word om die presiese oorsaak van Josh se dood te bepaal.

Die SANW het ook ’n interne ondersoek na die voorval geloods.
Die tragiese dood van klein Josh het vandeesweek landwyd nuus gemaak.

Sy oupa, Hamilton Peach, het in ’n aangrypende inskrywing op Facebook die volgende oor sy geliefde kleinseun se dood geskryf: “Daar is geen woorde om die pyn te beskryf wat ons tans ervaar nie. Ons sonskyn-kleinkind wat ons buite alle grense laat liefhê het, is nie meer nie… Josh James Pharaoh, ons lewens sal nooit weer dieselfde wees nie. Ek weet jy het ons agtergelaat met ’n onge­looflike geskenk van herinneringe wat ons ’n leeftyd sal hou. Jou lewe die afgelope nege jaar was ’n ongelooflike reis van liefde en seëninge. Dankie aan God wat ons toegelaat het om jou in ons lewens te hê.”

Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, het gesê die KKNK is bewus van die fratsongeluk wat gelei het tot Josh se dood en het haar medelye teenoor die familie van Josh uitgespreek. “Ons harte gaan uit na Josh se hele familie, maar veral na sy ouers en grootouers. Ons wens hulle alle sterkte toe met die reëlings vir sy begrafnis en die baie moeilike tyd wat vir hulle voorlê.”

Oudtshoorn se burgemeester, Co­lan Sylvester, het ook sy innige simpatie teenoor Josh se naasbestaandes uitgespreek. “Ons gedagtes en ge­bede is met die familie in hierdie tyd van smart,” het hy gesê.

’n Gebedsbyeenkoms vir Josh is gister in die Paarl gehou. Hy word Sondagoggend om 10:00 uit die Church of Annunciation begrawe.

The post Oudtshoorn- en Kaapse familie rou ná 9-jarige weens fratsongeluk sterf appeared first on DieHoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444