Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Welgedaan met dié sakeaflos

$
0
0
Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

DIE Klein Karoo Sakeaflos wat ver­lede Donderdag na ’n afwesigheid van twee jaar op Oudtshoorn “herleef” het, was ’n vrolike affêre.

Dit het bo alles getoon dat sport een van die grootste verenigers van mense is en alle grense tussen mense soos mis voor die son laat verdwyn.

Niemand kon anders as om te glimlag terwyl oud en jonk met groot geesdrif gehardloop, gedraf en gestap het nie.

Daar was die kampioene wat almal beïndruk het met hul styl en grasie, die kleingoed wat soos wildsbokke twee kilometer afhardloop, die veterane wat getoon het daar is murg in hul pype …
En dan was daar die res van ons – die man of vrou wat jou gister in ’n winkel gehelp het, aan jou ’n huis verkoop het, vir jou skoolgehou het, en sowaar ook die bure se kinders…

Daar was verpleegsters en staats­amptenare en joerna­liste en fisiote­-rapeute en onderwysers en vlieë­niers en bankpersoneel en soldate en besigheidseienaars.

Wat ’n verligting en uitkoms en vrolikheid in tye wat baie mense rondloop met krom skouers, of gepynigde ge­sigte of donker wolke oor hul koppe en in hul harte.

Tien uit tien vir die inisiatief van die Klein Karoo Atletiekfonds om dié sakeaflos weer te laat herleef. Mag deelname volgende jaar tienvoudig toeneem.

’n Spesiale kompliment moet ook gaan aan die aankondiger – kapt Lera­to Mogorosi – Hier is ’n man wat werk­­lik oor die gawe beskik om men­se te laat glimlag en betrokke te laat raak. Sy stem was die vrolike tema­mu­siek vir die hele byeenkoms. Hy het almal laat welkom voel – soms selfs in Chinees tot groot vermaak!

The post Welgedaan met dié sakeaflos appeared first on DieHoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434