
Die boom, wat tussen die kajuit en vrag vasgesit het, word deur Johan Hanekom in stukke opgesaag sodat dit verwyder kan word.
Deur Liesel le Roux
’N VRAGMOTOR met ’n vrag lusern daarop is Maandagaand in sy spore gestuit toe takke van ’n groot peperboom aan dit vasgehaak en ’n deel van die boom afgeskeur en op die vragmotor geval het.
Die ongeluk het kort voor 19:00 in Noordstraat op Oudtshoorn by Langenhoven Gimnasium naby die hoek met Jan van Riebeeckweg plaasgevind.
Die vallende boom het die bestuurskajuit net-net gemis, maar heelwat skade is aan die vragmotor aangerig. Daar is onder meer duike in die dak, die perd en ’n lugfilter is beskadig en ’n truspieël is afgeruk. Een van die boom se stamme het tussen die bestuurskajuit en die vrag ingeval. Van die seile wat die lusern bedek het, is ook geskeur.
Noordstraat moes geruime tyd gesluit word terwyl die boom van die vragmotor verwyder is. Die groot boomstam is eers in stukke gesaag om dit makliker te kon verwyder.
Die twee insittendes van die vragmotor is nie beseer nie. Die bestuurder, Thurston Dale, sê hy wou vir die boom uitdraai, maar kon nie omdat ’n motor van voor gekom het. Hy was ná die voorval duidelik geskok. “Toe ek daarvan bewus geraak het dat iets van bo af op die vragmotor val, het ek baie groot geskrik.
“Ek is net dankbaar ek het ongedeerd uit die vragmotor geklim,” het hy gesê.
Die vrag lusern behoort aan Cornel Landman, ’n boer van Oudtshoorn, en was van ’n plaas van hom in die Noord-Kaap op pad na ’n boer van Oudtshoorn. Landman was verlede week in die nuus toe hy as een van Agri Wes-Kaap se Jong Boer van die Jaar 2017-finaliste aangewys is.
Hy sê die laaghangende takke van die bome in Noordstraat en die probleme wat dit vir swaar-voertuie veroorsaak is tevore onder die munisipaliteit se aandag gebring, ook deur hom persoon- lik. Volgens hom is die vrag van 4,2 meter hoog binne die toegelate hoogte.
Volgens Landman is dit veiliger om ’n groot vragmotor met Noordstraat te laat ry as om dit by Voortrekkerweg in Baron van Reedestraat te laat indraai en verder met dié besige straat te laat ry.
Hy het gesê hy beoog om ’n eis by die munisipaliteit in te dien vir die skade wat hy deur die voorval gely het en het reeds ’n prokureur opdrag gegee om met die proses te begin.
Volgens Landman is sy grootste skade die in-komste wat hy verloor omdat die vragmotor wat hy by Premier Transport huur, nie ná die ongeluk kon terugry Noord-Kaap toe om weer lusern te gaan oplaai en te lewer nie, veral in die lig van die talle vakansiedae wat voorlê.
Die Oudtshoorn Munisipaliteit het nie gister gereageer op ’n navraag van Die Hoorn oor die voorval en die laaghangende takke in Noordstraat wat aan die vragmotor vasgehaak het nie.

Cornel Landman aan wie die voer op die vragmotor behoort, was ook op die toneel.
The post Boom val op vragmotor appeared first on DieHoorn.