
Foto regs: Die bestuurder het die foto waar die kinders lê, vanoggend geneem. Foto links: ’n Opgerolde matras, kartondose en verskeie kledingsstukke by dié slaapplek langs die museum. Foto: Ilze-Mari Gründling
Deur Ilze-Mari Gründling
DAAR is nog steeds kinders wat snags by die CP Nel Museum slaap, vertel Lelanie Boonzaaier, waarnemende bestuurder.
“Ons het onlangs ’n opgerolde matras langs die museum gekry. Daar is bewyse dat die straatkinders steeds hier slaap. Dit is ’n groot probleem omdat hulle al voorheen by die museum probeer inbreek het. Dit affekteer ook toerisme en die erfeniskarakter van die gebou.”
Boonzaaier vertel dat straatkinders ook die kragboks en omliggende heinings gevandaliseer het.
Volgens Ntobeko Mangqweqwe, senior woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sal wetstoepassingsbeamptes so gou moontlik gestuur word om seker te maak dat die kinders nie daar slaap of die gebou vandaliseer nie. “Dit is moeilik op die oomblik. Die dorp het nie genoeg wetstoepassers nie, maar sodra dit moontlik is, sal personeel gestuur word.”
Aurelia Oliphant, ook ’n munisipale woordvoerder, sê dat hulle wel ’n plan sal maak met die beskadigde heinings.
“Die elektrisiteitsdepartement is tans besig om daarna om te sien en sal so gou as moontlik die opening in die heining met sementblokke herstel. Parke en Rekreasie sal ook gereeld personeel stuur om die gebied skoon te maak.”
• Die Hoorn het op 17 Maart berig dat straatkinders ’n toergids met ’n mes aangeval en toeriste geterroriseer het by die museum.
The post Museum bly teiken vir vandalisme appeared first on DieHoorn.