Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Talle beseer in twee botsings

$
0
0
Verskeie mense is Maandag en Dinsdag beseer in botsings reg van voor op onderskeidelik die Oudtshoorn-George- en die Oudts­hoorn-Calitzdorppad. Die foto’s toon die toneel van ’n botsing Dinsdagaand tussen die polisievangwa (bo) en die motor (regs) op die Calitzdorppad.                                                              Foto’s: Schalk le Roux

Verskeie mense is Maandag en Dinsdag beseer in botsings reg van voor op onderskeidelik die Oudtshoorn-George- en die Oudts­hoorn-Calitzdorppad. Die foto’s toon die toneel van ’n botsing Dinsdagaand tussen die polisievangwa (bo) en die motor (regs) op die Calitzdorppad. Foto’s: Schalk le Roux

’N VROU van Calitzdorp en ’n po­lisiebeampte is Dinsdagaand erns­tig beseer toe ’n motor en ’n po­li­sie-vangwa teen mekaar op die Oudts­hoorn-Calitzdorppad gebots het.

Die botsing het omstreeks 17:35 by die afdraai na De Hoop plaasgevind. Die motor was vanaf Oudtshoorn na Ca­litz­dorp op pad en die polisievangwa uit die teenoor­ge­stel­de kant toe die vangwa na bewering regs wou draai na De Hoop.

Die vrou, wie se naam die Oudts­hoorn Polisie nie gister kon bevestig nie, het na verneem word ernstige kop-, nek- en rugbeserings opgedoen en is op ’n draagbaar na die ambulans geneem. Die polisie­beampte, konst Isaks, het ook nekbeserings opgedoen.

Albei beseerdes is in die Klein Karoo MediClinic opgeneem.
Volgens Morongwe Johanna Ke­re­tetse, bestuurder van die Klein Karoo MediClinic, was albei pasiën­te se toestand gister stabiel.

’n Kleuter wat saam met die vrou in haar motor was, is nie beseer nie.
Sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het gister gesê die polisie ondersoek ’n klagte van roekelose en nalatige bestuur. Ilze-Mari Gründling berig dat die polisie ook ’n saak van roekelose en na­la­tige bestuur ondersoek nadat ’n bussie en ’n bakkie Maan­dagoggend omstreeks 05:50 op die Oudtshoorn-George-pad van voor teen mekaar gebots het.

Volgens Michaels het die botsing sowat 10 km buite Oudtshoorn plaas­gevind toe ’n wit Isuzu-bakkie na bewering ’n vragmotor probeer verbysteek en met ’n wit Iveco-bussie reg van voor gebots het. Volgens Chrizelda Steyn wat gereeld dié pad ry en by die toneel verby­gery het, was die bakkie op pad George toe en die bussie na Oudts­hoorn. “Soos dit vir my lyk, het die voer­tuie se neuse teen mekaar gestamp toe die bakkie ander voertuie pro­beer verbysteek het. Ek moes ook vanoggend uitswaai vir dieselfde re­de, anders was my kar ook be­ska­dig.”

Volgens Michaels is die bestuurder van die bakkie, Gordon Afrika van Dysselsdorp, ernstig beseer en na die hospitaal geneem. Vier insittendes van die bus is ook beseer en hospitaal toe geneem.

The post Talle beseer in twee botsings appeared first on DieHoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434