
Mediese personeel van die SANW se siekeboeg op Oudtshoorn in die tydelike markiestent in Knysna. Hulle is van links kapt Amelda Reitz (verpleegsuster), maj (dr) Gert Nel en kapt Lizelle Greeff (verpleegsuster).
Foto: Hans van der Veen
MEDIESE personeel van die SANW se siekeboeg op Oudtshoorn lewer sedert verlede week ’n onskatbare bydrae om mediese hulp aan slagoffers van die Knysna-brande te verleen.
Een van die krisisse wat die brande op Knysna veroorsaak het, was dat die Knysna Provinsiale Hospitaal ontruim moes word as gevolg van ’n brandgevaar vir pasiënte en personeel.
Die Oudtshoorn Siekeboegpersoneel het reeds Donderdag betrokke geraak nadat Knysna Rampbestuur ’n versoek om rampsteun aan die SANW gestuur het. Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsdienste (SAGD) het ’n mobiele noodeenheid in samewerking met die Departement van Gesondheid ontplooi om primêre gesondheidsorg namens die Knysna Hospitaal te bied totdat die hospitaal weer sy deure kan open.
Die mobiele noodeenheid word vanuit ’n wit markiestent op Loeriepark, die dorp se sportfasiliteit, bedryf.
Volgens lt Kol Stephanus Henrico, Offisier in Beheer: HCSC, werk personeel van die militêre mediese personeel baie hard, maar het hulle groot lof vir die ondersteuning van die Knysna-gemeenskap. “Etes word byvoorbeeld deur plaaslike restaurante geborg en afgelewer.
“ ’n Groot besending mediese voorraad is ook deur Gift of the Givers afgelewer.”
Henrico het namens die SAGD die Knysna-gemeenskap bedank. “Dankie aan die Knysna-gemeenskap vir die wyse waarop hulle ons bemagtig om die diens te lewer. Ons is vas oortuig dat Knysna met hierdie gesindheid voorwaar soos ’n feniks uit die as sal verrys!
The post HCSC Oudtshoorn Siekeboeg help Knysna met mediese sorg appeared first on DieHoorn.