Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Lewis word borgtog geweier

$
0
0

Deur Liezl van Niekerk

Die man wat ’n bekentenis oor die onlangse moord op mnr Lionel Petersen van Dysselsdorp afgelê het, se borgtogaansoek is Maandag deur landdros Johan Steynberg in die Oudtshoorn Landdroshof geweier.

Christiano Lewis (19) staan tereg op klagtes van moord, roof met verswarende omstandighede en verkragting. ’n Tweede persoon is in sy borgtogaansoek geïmpliseer.

Lewis se borgtogaansoek is Vrydag en Maandag aangehoor. Sy prokureur, mnr Gideon Badenhorst, het gesê Lewis is ’n eerste oortreder en nog jonk, en dat dit onregverdig sou wees om hom vir die duur van die saak aan te hou terwyl die hof nie weet of hy skuldig is nie.

Lewis, wat aangedui het dat hy onskuldig gaan pleit, het sedert sy geboorte tot twee maande gelede by ’n tannie, me Maria Bailey, gewoon. Die afgelope twee maande woon hy by ’n vriend waar die beweerde moordwapen en Lewis se bebloede klere deur die polisie gevind is. Die staat het die borgtogaansoek teengestaan. Die ondersoekbeampte, sers Denver Wessels, het gesê Lewis is deur verskeie persone, onder meer ook die tweede persoon wat hy in die bekentenis impliseer, gedreig.

“Daar staan in die bekentenis dat Lewis Petersen met ’n klip agter sy kop gegooi het en hom daarna geskop en getrap het. Volgens die bekentenis het Lewis het R1,50 en ’n R5-koepon van Petersen gesteel. Hy impliseer egter dat die tweede persoon wat saam met hom was, Petersen met ’n mes gesteek en daarna verkrag het,” het Wessels gesê.

Volgens Wessels beskik die polisie oor omstandigheidsgetuienis en forensiese getuienis wat die bebloede klere van Lewis en die tweede persoon asook die moordwapen insluit.

Mnr Leon Campher van die advieskantoor in Dysselsdorp het namens die gemeenskap getuig.

“Die gemeenskap is bang. Alhoewel ons erken dat alles by die opvoeding in die huis begin, voel ons dat die hof die laaste opsie en afskrikmiddel vir kriminele is. Ons wil graag hê die hof moet borgtog weier en die kriminele swaar straf. Miskien skrik dit hulle af,” het hy gesê.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434