DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het ’n kriminele klag by die Oudtshoorn Polisie ingedien nadat R50 000 se elektriese toerusting Maandag gesteel is. Die toerusting pomp gesuiwerde afvalwater na verskeie sportvelde van skole op die dorp asook na die Oudtshoorn Gholfbaan.
Luidens ’n persverklaring van die munisipaliteit is die diefstal Maandagaand omstreeks 19:30 deur ’n munisipale amptenaar ontdek toe hy die pomp wou gaan aanskakel om water na die Oudtshoorn Gholfbaan te pomp.
Die diewe het na bewering die staaldeur van die pomphuisie oopgebreek en toerusting soos elektriese kabels en konnekteerders gesteel.
Die gesteelde toerusting is ook vir ander prosedures by die suiweringsaanleg gebruik.
Dit is nie die eerste keer dat van dié elektriese toerusting gesteel word nie.
Van die toerusting wat Maandag gesteel is, is slegs verlede Donderdag vervang nadat dit sowat drie weke gelede ook gesteel is.
Luidens die verklaring beoog die munisipaliteit om die pomphuisie na ’n veiliger en omheinde terrein te verskuif. ’n Tender vir dié verskuiwing is reeds November verlede jaar geadverteer en die proses sal volgens die verklaring hopelik eersdaags plaasvind.
Enigeen met inligting wat tot die inhegtenisneming van die oortreders kan lei, word versoek om die Oudtshoorn Polisie te kontak by tel 044 203 9120 of die munisipaliteit se siviele ingenieurs-afdeling by tel 044 272 4634.