Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Vlag halfmas vir Micheale

$
0
0
Micheale Abrahams (15) Foto: Facebook

Micheale Abrahams (15) Foto: Facebook

Deur Liesel le Roux
DIE landsvlag by die Hoërskool Oudts­hoorn hang die week halfmas nadat ’n graad 9-leerder van die skool verlede week in ’n motorbotsing tussen Laingsburg en Prins Albert gesterf het.

Micheale Abrahams (15), haar ouma Faith Abrahams, haar neef Wayde Abrahams (10) en niggie Nicolene Adams (5) het verlede Woensdagmiddag gesterf toe die Polo waarmee hulle gery het in ’n botsing betrokke was met ’n Toyota-bakkie op die N1 tussen Laingsburg en Prins Albertweg.

Micheale was die enigste kind van Francois en Davelene Abrahams van Beaufort-Wes en was sedert begin 2016 in die koshuis by die Hoërskool Oudtshoorn.

Haar ouers het die Hoërskool Oudts­hoorn gister besoek waar die voorportaal gevul was met blomme, kerse en briefies van haar skoolmaats – eerbewyse wat die leerders volgens die skoolhoof, Coenie de Vos, spontaan Maandag skool toe gebring het.

“Sy was ’n trotse en gelukkige Strui­sie,” het Davelene gister aan Die Hoorn gesê.
“Ons het vandag deurgekom na Oudts­hoorn en die skool besoek om baie dankie te sê vir wat die skool die afgelope jaar en ’n half in haar lewe beteken het en dit wat in haar lewe geplant is.”
Davelene sê dit was vir haar duidelik met haar besoek aan die skool dat haar dogter baie lewens oor alle grense heen geraak het.

Volgens De Vos het die skool Maandag tydens die saalopening hulde gebring aan en afskeid geneem van Micheale.

Hy vertel twee graad 11-seuns het op eie inisia­tief ’n Power Point-aanbieding oor haar vir die saalopening gemaak.

“Die kinders is baie hartseer oor Micheale. Haar nalatenskap is dat almal van haar gehou het.
“Ek onthou haar altyd vriendelike gesiggie by die skool.
“Sy het koor gesing en netbal gespeel. Haar dood is ’n groot verlies vir die skool. Sy was ’n Struisie in murg en been.”

• Honderde mense het sedert verlede Donderdag op Die Hoorn se Facebookblad hulde gebring aan Micheale.

’n Gesamentlike gedenkdiens vir haar en die ander drie oorledenes word van­oggend in Beaufort-Wes gehou, met ’n gesamentlike begrafnisdiens Saterdag­oggend om 10:00 in die Nuwe Apostoliese Kerk in Rustdene, Beaufort-Wes.

The post Vlag halfmas vir Micheale appeared first on DieHoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434