Deur Liesel le Roux
DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit sal inwoners vroegtydig inlig indien dit nodig word om droogtetariewe in te stel.
Die munisipaliteit het die week gereageer op vrae van Die Hoorn oor die instel van droogtetariewe indien die vlak van die Raubenheimerdam onder 50 persent daal.
Volgens die munisipaliteit sal sulke droogtetariewe in die hele munisipale gebied geld, wat ook Dysseldorp en De Rust insluit.
Indien die vlak van die Raubenheimerdam tot tussen 40% en 50% daal, sal die huidige watertarief met 10% verhoog word om watergebruik te ontmoedig.
Indien die damvlak daal tot tussen 30% en 40% sal watertariewe met 30% styg en indien dit daal tot tussen 30% en 40% sal dit met 75% styg.
Die ses kiloliter water wat sekere inwoners as deel van hul deernissubsidie kry, sal nie geraak word deur die verhoging in tariewe nie.
Ander beperkende maatreëls mag ook ingestel word om te help met die beperking van watergebruik, soos byvoorbeeld op die natgooi van tuine.
• Volg gerus die volgende skakel vir die munisipale droogtetariewe op die munisipaliteit se webblad (www.oudtshoorn.gov.za): file:///C:/Users/User2/Downloads/2017%202018%20Drought%20Water%20Tariffs.pdf. Of gaan na die webblad en volg die volgende stappe: Kliek op Documents bo-aan die webblad; kliek op Financial Budgets/Reports; Gaan hier na bl 2 by Final Budget 2017/2018 en soek die dokument Oudtshoorn Municipality Drought Tariff 2017/2018.
The post Munisipaliteit sal inlig as droogtetariewe nodig raak appeared first on DieHoorn.