Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Calitzdorp Vier se aansoek om te appelleer geweier

$
0
0

Deur Garnett Wicomb
’N AANSOEK van vier mans van Calitzdorp wat elk vyf jaar gevangenisstraf ingevolge Art 276 (1) ( i) opgelê is vir die verwoesting van ’n restaurant op die plaas Groenfontein, om teen hul vonnisse te appelleer, is verlede Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof van die hand gewys.

Morné Nel (33), Mervin van Wyngaardt (28), Geraldo Ewerts (22) en Elton van Wyngaardt (26) wat die Aloe Aloe Restaurant van Erica Calitz met groot klippe verwoes het, is aan opsetlike saak­beskadiging, aanranding om ernstig te beseer en diefstal skuldig bevind.

Nadat ’n aansoek geliasseer is om ’n petisie teen die weiering by die hooggeregshof in te dien, het streeklanddros Daniel Boks ’n aansoek om borg­tog geweier.

Die vier se regsverteenwoordiger, Eugene Roos, het na ’n onlangse hofsaak verwys waarin die voormalige burgemeester van Oudtshoorn, Gordon April, se aansoek om borgtog in die streekhof geweier is, maar hy wel later borgtog in die hooggeregshof toegestaan is in afwagting op die uitslag van ’n petisie.

Volgens landdros Boks is hy van mening dat die vier mans se vonnis nie onvanpas of buitensporig hoog is nie, maar dat dit eintlik ligte vonnisse is.

“Die hof is van mening dat ’n ander hof nie tot ’n ander beslissing en mindere vonnis vir die ernstige misdrywe sal kom nie,” het die landdros gesê.

Die vier mans kan na die uitdiening van slegs tien maande om parool aansoek doen, terwyl ’n beslissing ten opsigte van ’n petisie veel langer kan neem.

The post Calitzdorp Vier se aansoek om te appelleer geweier appeared first on DieHoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434