Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444

Hardwerkend en waardig

$
0
0
Marie van der Merwe wat op die ou­derdom van 101 jaar op Oudts­hoorn oorlede is.  Foto verskaf

Marie van der Merwe wat op die ou­derdom van 101 jaar op Oudts­hoorn oorlede is.  Foto verskaf

Dorp groet merkwardige vrou

Deur Liesel le Roux
EEN van Oudtshoorn se oudste inwoners, Marie van der Merwe, is op 4 Augustus op die ouderdom van 101 jaar en 7 maande oorlede. Van der Merwe was ’n inwoner van Tuishuis.

Dié merkwaardige vrou is op ’n plaas in die Kamanassiestreek gebore as die sesde van 12 kinders van Gert Olivier. Na skool het sy in Johannesburg as sekretaresse by die SAUK gewerk, onder meer 19 jaar as die privaatsekretaresse van die destydse hoof van die SAUK, Piet Meyer. Sy het ook haar vertalerseksamen met lof geslaag en verskeie boeke vertaal asook ’n boek geskryf.

Van der Merwe het in Johannesburg ’n interessante lewe gehad as vriendin van bekende digters soos NP Van Wyk Louw en sy vrou Truida, GA Watermeyer en sy vrou Letsie en SJ Pretorius saam met wie sy by die SAUK gewerk het.

Haar man, Fritz van der Merwe wat die hoofvertaler en taaladviseur by die SAUK was, is oorlede toe sy slegs 39 jaar oud was en hul twee dogters nog klein was.

Sy het 26 jaar gelede teruggekeer Oudtshoorn toe en eers ’n huis met haar suster, Ansie Olivier, gedeel voordat hulle saam na Tuishuis verhuis het. Olivier is in Januarie vanjaar oorlede.

Haar dogter Marianne van der Lecq van Tergniet wat haar ma tydens haar laaste jare bygestaan en gereeld by haar gekuier het, sê haar ma moes as jong vrou lang ure en baie hard werk om haar twee dogters alleen groot te maak. Sy het Van der Merwe by ’n dankdiens verlede Saterdag bestempel as “hardwerkend, energiek, waardig, lojaal, belangstellend, beskeie, lees- en leergierig”.

Sy vertel haar ma het haar sig net na haar 100ste verjaarsdag oornag verloor. “Dit was ’n groot hartseer en skok, maar haar woorde aan my was: ‘Ek is baie oud en ’n mens moet seker verwag iets gaan verkeerd loop’. Met hierdie aanvaarding en realisme het sy gelewe. Haar gehoor het egter uitstekend gebly, want sy kon na gedigte en musiek op CD luister.”

Van der Merwe se ander dogter, Erna, is in 1995 oorlede.

The post Hardwerkend en waardig appeared first on DieHoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444