
Marli van Wyngaard. Foto: Facebook
Oud-inwoner midde-in orkaan
Deur Liesel le Roux
DAAR is niks op die eiland oor waar sy en haar kollegas verlede week die geweld van die orkaan Irma oorleef het nie, sê Marli van Wyngaard wat op De Rust en Oudtshoorn grootgeword het.
Marli woon en werk in Road Town op die eiland Tortola wat deel uitmaak van die Maagde-eilande. Tortola is een van die eilande wat die ergste onder die geweld van die orkaan deurgeloop het en bykans heeltemal verwoes is.
Marli, wat in 2000 matriek geskryf het aan die Hoërskool Oudtshoorn, is die bedryfsbestuurder vir TradeWinds, ’n firma wat luukse seiljagte verhuur. Sy het die week kortliks op Facebook met Die Hoorn gesels.
“Dis regtig baie erg. Ons oorleef op die minimum. Ten minste het ons meer as baie ander omdat vier van ons agt bote okei is na die storm. Dis niks minder as ’n wonderwerk nie.”
Een van Marli se kollegas by Trade Winds, Alett Slabbert, het die week aan Netwerk24 vertel watter trauma hulle groep van 13 mense ervaar het toe die orkaan die eiland getref het. Nege van hulle is Suid-Afrikaners.
Volgens Alett het die groep in die Nanny Cay Hotel gaan skuil, maar moes hulle die hotel ontruim toe die dak afgewaai en daar ook gevrees is vir stygende water.
Hulle het midde-in die storm na ’n woonstelblok probeer vlug, maar sy en Marli het die groep verloor. Marli se vriend, Chris Roux, het hulle egter kom help en uiteindelik daarin geslaag om mense in die woonstelblok se aandag te trek wat hulle skuiling gebied het.
Die wind was so sterk dat dit dié mense se deur en hek afgewaai het toe hulle vir die drie Suid-Afrikaners oopgemaak het.
Toe Marli met Die Hoorn gepraat het, het sy gesê die groep wag vir ’n boot om hulle (waarskynlik vandag) na ’n ander eiland te neem.
Die Hoorn het ’n besonderse band met Marli. Sy was een van haar skool se topmatrieks waaroor in die heel eerste uitgawe van Die Hoorn wat op 25 Januarie 2001 verskyn het, berig is. Marli het ook daarna toe sy joernalistiek aan die Universiteit van Noordwes (Potchefstroom-kampus) studeer het, praktiese vakansiewerk by Die Hoorn gedoen. Marli is die dogter van Stronkie en Petra van Wyngaard van Oudtshoorn.
The post ‘Niks oor nie ná orkaan Irma’ appeared first on DieHoorn.