
Carol Ann van Rensburg (20).
Polisie besig met ondersoek
Deur Ilze-Mari Gründling
DIE 20-jarige Carol Ann van Rensburg van Oudtshoorn wat op 31 Januarie vanjaar ernstig beseer is toe haar bromponie deur ’n bestuurskoolvragmotor getref is, het Maandag weer ’n operasie aan haar been ondergaan.
Haar linkerknie is in die botsing vergruis en sy het ook ’n gedeelte van haar kuitspier verloor.
Haar ma, Ansie van Rensburg, vertel dat die dokters ’n wig in haar been gesny het sodat die been nog 22% kon skuif om so reguit soos die ander been te kan wees.
“Toe hulle die plaat en skroewe verwyder, het die been egter losgekom. Dit is baie sag en het nie geheg soos die dokters gehoop het nie,” sê sy.
Volgens Van Rensburg is ’n nuwe plaat ingesit en weer geheg. “Met die vorige operasie is die skroewe uit die knie verwyder en het hulle haar been vir haar gebuig.”
Van Rensburg sê dat Carol Ann nog ’n lang pad het na herstel.
“Ons moet net wag, glo en bid dat sy sal herstel. Ons moet net vertrou dat die been sal heg.”
Verskeie inwoners het die week die gesin op sosiale media sterkte toegewens vir die pad vorentoe.
• Die Oudtshoorn Polisie ondersoek tans ’n saak van roekelose en nalatige bestuur in verband met die botsing waarin Carol Ann beseer is.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die ondersoek afgehandel maar is die bestuurder van die bestuurskoolvragmotor se waarskuwingsverklaring nog uitstaande.
Sodra dit bekom is, sal alles aan die staatsaanklaer voorgelê word vir ’n beslissing oor moontlike vervolging.
The post Nog ’n operasie vir Carol Ann 11 maande later appeared first on DieHoorn.