Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444

Herwinningsaanleg kom vir dorp

$
0
0
Welgedaan! Die span van die Groter Oudts­hoorn Munisipaliteit wat betrokke was by die opgradering en onderhoud van die munisipale rioolaanleg en daarvoor ’n toekenning vir uitstaande werk van die Waterinstituut van Suid-Afrika ontvang het. Hulle is Dinsdag by die laaste raadsvergadering van die jaar gelukgewens met die prestasie. Die riool­plaas het soos handomkeer verander sedert 12 Februarie 2015 toe ’n voorbladberig in Die Hoorn die haglike toestand daar onder die bestuur van die vorige raad onder inwoners se aandag gebring.   Foto: Liesel le Roux

Welgedaan! Die span van die Groter Oudts­hoorn Munisipaliteit wat betrokke was by die opgradering en onderhoud van die munisipale rioolaanleg en daarvoor ’n toekenning vir uitstaande werk van die Waterinstituut van Suid-Afrika ontvang het. Hulle is Dinsdag by die laaste raadsvergadering van die jaar gelukgewens met die prestasie. Die riool­plaas het soos handomkeer verander sedert 12 Februarie 2015 toe ’n voorbladberig in Die Hoorn die haglike toestand daar onder die bestuur van die vorige raad onder inwoners se aandag gebring. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE Groter Oudtshoorn-raad het Dinsdag by sy laaste raadsvergadering vir 2017 ’n voorstel aanvaar vir die vestiging van ’n herwinningsaanleg vir Oudtshoorn by die huidige Grootkop-stortingsterrein.

Die terrein is uit ’n finansiële oogpunt meer geskik as ’n terrein by die ou kragstasie wat ook oorweeg is, beskik reeds oor die nodige permit en het ook nie toestemming van Erfenis Wes-Kaap nodig soos die kragstasie-terrein nie.

Mervin Olivier van Gibb Engineering & Architecture, die firma wat ’n ondersoek gedoen het na ’n geskikte terrein vir ’n herwinningsaanleg, het tydens ’n voorlegging daarop gewys dat herwinning ’n stortingsterrein se leeftyd baie kan verleng en in die proses die raad miljoene rande kan spaar.

Volgens Olivier maak organiese afval ook ’n groot deel van die vullis op die stortingsterrein uit en kan dit moontlik tot kompos verwerk word.

Die speaker, Julia le Roux, het na die voorlegging aangedui dat die raad vroeg in 2018 ernstig aandag aan die verdere voorgeskrewe stappe vir die vestiging van ’n herwinningsaanleg sal skenk.

Ouditverslag verbeter
Die munisipale bestuurder, Allen Paulse, het aangedui dat daar beduidende verbeteringe is ten opsigte van die Ouditeur-Generaal se ouditverslag oor die munisipaliteit in vergelyking met die vorige jaar. Volgens Paulse het die munisipaliteit ’n gekwalifiseerde ouditverslag ontvang, maar het die aantal opmerkings vanaf 160 tot net meer as 60 afgeneem.

Paulse het gesê die munisipaliteit streef nou na ’n ongekwalifiseerde of skoon ouditverslag.
“Daar is drie aspekte wat opgelos moet word waarna ons ten minste volgende jaar ’n ongekwa­lifiseerde ouditverslag sal kry.”

Die ouditverslag sal gepubliseer word vir inwoners se insae met 30 dae vir kommentaar.

’n Biblioteek vir Rosevalley
’n Biblioteek gaan in Rosevalley gebou word met R8 500 000 wat deur die Wes-Kaapse regering se biblioteekdienste daarvoor bewillig is.

Dit is die eerste keer dat die Groter Oudtshoorn ’n toekenning van dié aard kry vir ’n biblioteek.
Die biblioteek sal gebou word langs die erf wat vir ’n kliniek geïdentifiseer is.

Vullisverwyderingsplan vir Oudtshoorn
Die raad het Dinsdag die eerste keer ’n vullisverwyderingsplan vir Oudtshoorn aanvaar. So ’n plan is nog nooit voorheen op skrif gestel nie. Die plan toon dat 90% van die gemeenskap tans bedien word en dat daar talle uitdagings is, soos verouderde trokke, inwoners wat vullis op onwettige plekke stort en nie aandag skenk aan vullisverwyderingsdae nie.

Twee raadslede op Kango Grotte-raad
Raadslede Pieter Luiters en Raymond Wildschut is verkies as die raad se verteenwoordigers op die Kango Grotte Raad. Die raad is deur die Wes-Kaapse Departement van Kulturele Sake en Sport versoek om twee raadslede aan te wys.

Amptenare se munisipale skuld
Amptenare wat nie ’n reëling met die munisipaliteit oor agterstallige skuld tref nie, se skuld gaan van hul salarisse verhaal word, lui die agenda van die raadsvergadering.

Hiervolgens was amptenare se uitstaande skuld in Augustus R102 825 (langer as 61 dae), R26 750 (60 dae) en R37 557 (30 dae).

Raadslede het geen agterstallige skuld van langer as 60 dae gehad nie, met slegs ’n bedrag van R1 076 wat 30 dae uitstaande was.

The post Herwinningsaanleg kom vir dorp appeared first on DieHoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444