Deur Liesel le Roux
’N VROU en drie mans het gister in die Calitzdorp Landdroshof verskyn in verband met die diefstal van sowat R180 000 se goedere uit die huis van twee inwoners van die dorp.
Die diefstal het op Sondag 29 Januarie plaasgevind terwyl Bob en Chrissie Reinecke uitstedig was.
Vriende van hulle het die diefstal ontdek.
Na verneem word was die huis in wanorde na die diefstal met ’n groot TV-skerm wat uit die muur geruk is en boeke wat op die grond gelê het. Agtien kristalle uit ’n groot kristal-kandelaar is gesteel asook onder meer ’n fiets, ’n musiekstelsel met luidsprekers en ’n kruiwa. Die meeste van die gesteelde goedere is teruggevind.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die vrou en een van die mans vroeër in hegtenis geneem en die ander twee mans die afgelope week.
Die vier sou gister om regshulp aansoek gedoen het.
Die vrou het reeds by ’n vorige hofverskyning borgtog gekry, maar die mans is steeds in hegtenis.
The post Vier in hof na R180 000-inbraak appeared first on DieHoorn.