
Die kleuters van die Kleine Kuikens Kleuterskool wys vir Die Hoorn hoe lyk die waterlose toilette. By hulle is van links Mary-Anne Wannies, Dorothy Wannies (opvoeder), Zelda Jumats (proef-opvoeder) en Jenny Joubert (prinsipaal). Foto: Ilze-Mari Gründling
Deur Ilze-Mari Gründling
DRIE waterlose toilette wat sedert laat verlede jaar net langs die kerkie in Middelplaas staan, het uiteindelik volhoubare sanitêre geriewe na dié landelike gemeenskap tussen Oudtshoorn en De Rust gebring.
Dié drie droë-sanitêre Enviro-Loo’s funksioneer deurdat die son en wind vaste stowwe dihidreer sodat dit as kompos-materiaal gebruik kan word of veilig verwyder word. Dit is in 1993 ontwerp deur ’n Suid-Afrikaanse tandarts, dr Brian la Trobe, word in Suid-Afrika vervaardig en word hier in Middelplaas gereeld deur die maatskappy skoongemaak en onderhou.
Twee inwoners van Middelplaas, Dorothy Wannies en haar ma, Mary-Anne, sê dié toilette werk uitstekend vir hul gemeenskap. “Omdat die toilette so naby aan die kleuterskool en kerk geleë is, word dit gereeld gebruik en ons is baie gelukkig daarmee.
Daar is geen reuke nie, dit is skoon en word gereeld gediens,” sê Dorothy, opvoeder by die Kleine Kuikens Kleuterskool.
Mary-Anne is in beheer van die toilette en die sleutels daarvan en maak ook seker dat mense dit nie misbruik nie.
“Ons is baie dankbaar teenoor my ma,” sê Dorothy. “Sy doen baie vir die gemeenskap en ons waardeer haar rol.”
Die toilette is geïnisieer dr Susan Delport, ’n pediater van Pretoria wat in De Rust grootgeword het. Delport het die Ekofees in 2014 op De Rust geïnisieer en besoek die kleuterskool gereeld.
Volgens Dorothy het Delport haar ma van die toilette vertel en het hulle die bal aan die rol gekry.
Jenny Joubert, prinsipaal van Kleine Kuikens, sê die toilette maak regtig ’n verskil in die gemeenskap waar toilette nie beskikbaar is nie.
“Mense kan dit ook gebruik tydens kerkdienste of funksies en die kinders het na skool nou ook toegang tot toilette.
“Dit is ook ’n uitstekende konsep vir boere,” sê Joubert.
The post Waterlose toilette verander ’n gemeenskap appeared first on DieHoorn.