
Jodin Arries (16). Foto verskaf
Deur Ilze-Mari Gründling
DIE leerder van Bridgton Sekondêr op Oudtshoorn wat verlede week in die Life Bayview Hospitaal in Mosselbaai opgeneem is nadat ’n motor oor hom gery het, is steeds in die intensiewe waakeenheid.
Volgens Jodin Arries (16) se pa, Henri, is Jodin vanuit die intensiewe waakeenheid na ’n gewonesaal verskuif, maar is hy teruggeskuif nadat hy ’n hoë koors ontwikkel het.
Bloedtoetse is geneem en die gesin wag tans op die uitslae.
“Jodin is steeds positief. Hy sê dat hy die man reeds vergewe het, maar hy is steeds kwaad omdat die man nie by die stopstraat gestop het nie,” sê sy pa.
’n 29-jarige bestuurder van ’n silwer Opel Corsa is verlede Maandagmiddag (12 Maart) op die toneel van die ongeluk in Bongolethu in hegtenis geneem.
Jodin is in die straat raakgery waar hy nie betyds voor die voertuig kon wegkom nie.
Die bestuurder was vermoedelik onder die invloed van drank en het na bewering nie by die stopteken stilgehou nie.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die saak teen hom uitgestel totdat die uitslae van die bloedtoetse beskikbaar is.
The post Jodin steeds in intensiewe eenheid in Bayview Hospitaal appeared first on DieHoorn.