
Daniel Hugo.
Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
Die 23 gesprekke met skrywers by vanjaar se KKNK bied iets vir elke boekesmaak – van misdaad tot die digkuns, kookkuns tot sielkunde, politiek tot rubrieke, jeugboeke tot alternatiewe genesing, asook drama en vertalings in Afrikaans.
Die boeke is splinternuut, waarvan sommige debuutwerk – soos dié van rubriekskrywer Piet Matipa wat in Dwarsklap op ’n aweregse manier na die Suid-Afrikaanse samelewing kyk, en die joernalis Julian Jansen wat – kort voor die hofuitspraak – vertel van die opspraakwekkende Van Breda-gesinsmoord by De Zalze op Stellenbosch.
Die digter en vertaler Daniel Hugo, wat weer vanjaar se program saamgestel het, sê ’n program wat skrywers en boeke tydens die fees bekendstel, is ewe belangrik as drama- en musiekproduksies. “Die gesproke en geskrewe woord is die kern van alle kuns; selfs die visuele kunste is afhanklik van verduidelikende titels. Daarom vorm die gesprekke met skrywers so ’n belangrike onderdeel van die KKNK. Al die skryfgenres word in die boekeprogram betrek: poësie, prosa, lied- en verhoogtekste.”
Vertaling is ’n belangrike element van die literêre landskap in Suid-Afrika, en Hugo en Kobus Geldenhuys wat jaarliks talle werke uit Engels en Europese tale vertaal, sal aan die woord wees hieroor. Geldenhuys is veral bekend vir sy bydrae tot die vertaling van kinder- en jeuglektuur, en hy en prof Maritha Snyman gaan dié vraag beantwoord: Waarom is dit belangrik dat oorsese kinder- en jeugboeke ook Afrikaans praat? Die Nederlander Frank Westerman gesels ook oor sy roman El Negro en ek wat pas in Afrikaans verskyn het.
Misdaad bly een van die belangrikste bronne vir Afrikaanse fiksie, en vanjaar draai dié gesprek om drie spanningsromans wat pas verskyn het: Ys (Rudie van Rensburg), Gifbeker (Irna van Zyl) en Sonder twyfel (Chris Marnewick). Hoewel Marnewick se verhaal fiktief is, bevat dit elemente van hoëprofielsake wat onlangs in ons howe afgespeel het. André le Roux kyk weer na die persoonlikhede van die misdadigers tydens ’n bespreking van sy Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste.
Die Afrikaanse digkuns word vereer met besprekings van nuwe bundels deur Clinton du Plessis (Aantekeninge teen die skemeruur), Hugo (Openbare domein) en Pieter Fourie (Bidsnoer). Die poësie is ook ’n onuitputlike bron van inspirasie vir die toonsettings van Laurinda Hofmeyr en die musikus Hendrik Hofmeyr gesels hieroor met Hugo. Dié drie en die digteres Jolyn Phillips sluit die skrywersprogram af met voorlesings uit hul jongste werk. Fourie, een van Suid-Afrika se bekendste dramaturge, neem die dramatoneel in Suid-Afrika ook onder die loep saam met Amee Lekas en Marthinus Basson.
Gedurende die afgelope jaar het ’n magdom boeke oor die Suid-Afrikaanse politiek verskyn, met The President’s Keepers en Enemy of The People wat die voorlopers was om oud-pres Zuma se rol in staatskaping uit te wys. Die skrywers en joernaliste Jacques Pauw en Adriaan Basson bespreek hul skryfwerk met die radioman en joernalis Ivor Price.
Leefstylboeke word verteenwoordig deur Johannes de Villiers (Kalmte in die malle gejaag), Hykie Bergh (My storie van hoop), Louis Awerbuck en Lise Swart (Ek & jy – verhoudings wat werk), Antoinette Pienaar en Johannes Willemse (Die lang man sonder skaduwee), André le Roux (Waarom mans altyd reg is, en ander onnoselhede) en Rian van Heerden (16 dinge wat ek nie moes sê nie).
Die koskuns word bespreek deur Herman Lensing (Sarie-kosredakteur), Annelien Pienaar (Boerekos-krywer) en Martelize Brink (radioaanbieder).
• Boekgesprekke daagliks in die Netwerk24 Feeskafee: 10:30, 12:00, 14:00, 15:30 (sien program vir detail). Toegang gratis.
The post KKNK se Gesprekke met skrywers gaan boei appeared first on DieHoorn.