
Natashia Stuurman. Foto: Facebook
Deur Garnett Wicomb
SY is sewe maande swanger, is nie skuldig aan moord nie en behoort borgtog toegestaan te word. So sê Nathasia Stuurman (38), een van die vier verdagtes in die moordsaak van die soldaat, Preston Titus wat Maandag (9 April) sal hoor of borgtog aan haar toegestaan word.
Preston is die aand van 1 Desember 2017 wreed in sy slaapkamer vermoor. Daar was 27 steekwonde aan sy liggaam en hy is ook met ‘n hamer geslaan.
Stuurman staan saam met Preston se vrou Magdaleen (41), Magdaleen se motorbestuurder Sixabiso Klip (23) en Justice Mooi (30) tereg op sy moord terwyl ‘n vyfde verdagte steeds soek is.
Landdros The-olen November het Stuurman se borgaansoek op Dinsdag 27 Maart na 9 April uitgestel nadat die ondersoekbeampte in die saak, ao Martin le Roux, gevra het dat hy sekere aspekte in Stuurman se verklaring wil opvolg, en omdat hy (The-olen) ook genoeg tyd wou hê om twee lywige dokumente van die staat en die verdediging te bestudeer.
• Stuurman se regsverteenwoordiger, Chris Morgan, het tydens die borgaansoek op 27 Maart haar beëdigde verklaring van 16 bladsye aan die hof voorgelees na ure se vertraging. Morgan het sy teleurstelling hieroor uitgespreek, Volgens hom het hy eers dié dag, twee maande nadat hy Stuurman se verklaring aangevra het, dit ontvang en is sy eers om 11:00 na die hof gebring voordat hy met haar kon konsulteer.
Stuurman sê in haar verklaring dat sy die aand van die moord na Beaufort-Wes is vir ‘n kerkbyeenkoms. Sy het op versoek van Magdaleen haar huis beskikbaar gestel vir twee mans wat van Port Elizabeth sou kom en aanvanklik by Klip se pa sou tuisgaan.
Dit was nie vir haar vreemd nie, omdat sy gereeld vir mense, onder andere studente, huisvesting gegee het.
Sy het vir haar lewe gevrees nadat Klip haar meegedeel het van die moordplan en dat die vermeende huurmoordenaars gevaarlike professionele moordenaars is
Sy sê voorts dat omdat sy nie die getuies in die saak ken nie sy niemand sal kontak, beïnvloed of sal intimideer nie.
Sy beskik oor ‘n paspoort en is bereid om dit aan die ondersoekbeampte te oorhandig indien borgtog aan haar toegestaan word. Sy sal alle hofverskynings bywoon en het geen vorige veroordelings of hangende sake teen haar nie. Sy is die ma van ‘n minderjrige kind en sewe maande swanger.
Sy het derduisende rand aan haar woning op Oudtshoorn bestee en sal nie dit kan bekostig om borggeld, indien toegestaan, te verloor nie.
Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het in die hof gesê Stuurman was ten volle bewus van die komplot om Preston Titus te vermoor. Volgens haar was Stuurman ook teenwoordig by ‘n vergadering op Sondag 3 Desember 2017 – die dag na Prestonse dood met Klip en Magdaleen Titus.
“Die applikant was voor en na die dood van Preston Titus betrokke. Sy het selfs voorgestel dat persoonlike selfone nie gebruik moet word nie. Sy het ook haar motor beskikbaar gestel. Die staat staan borgtog teen omdat die beskuldigde tereg staan op ‘n Bylae 6- ernstige misdryf. Daar bestaan die moontlikheid dat sy nie haar verhoor sal bywoon nie en die belange van die gemeenskap kom ook sterk na vore,” het Weyers betoog. Sy het gesê daar is geriewe vir swanger vroue by die gevangenis.
The post Preston Titus-moord: Sy is sewe maande swanger, sê beskuldigde by borgverhoor appeared first on DieHoorn.