
Ronelle Huysamen, hoof van die Laerskool Laurus met die skool se eend.
DIE Laerskool Laurus het op Donderdag, 22 Maart, in Kaapstad ’n sistemiese toekenning vir vordering in Afrikaans en wiskunde vanaf die Wes-Kaapse Departement van Onderwys ontvang.
Die toekenning is vir drie jaar se volgehoue prestasie in dié twee leerareas!
“Om kwaliteit onderrig te verseker, is die aka-demie egter nie al wat hier by ons belankrik is nie,” sê die skool se hoof, Ronelle Huysamen.
“Ons volg ’n holistiese benadering deurdat ons op alle aspekte van ons leerders se ontwikkeling fokus om hul selfbeeld op te bou, in lyn met die skool se slagspreuk van “Groei en oorwin”.
“Laurus se onderwysers is daarop ingestel om leerders se individuele talente te identifiseer en dit te ontwikkel,” het sy gesê.
Laurus het ’n baie positiewe leeromgewing deurdat leerders toegelaat en aangemoedig word om “nuut en uit die boks” te dink, vertel sy.
“Leerders word daagliks aan uitdagings blootgestel. Ons toegewyde span onderwysers fokus daarop om ’n omgewing te skep waarin elke leerder se unieke sterkpunte en talente kan gedy.
“Deel van ons strewe is om leer ’n genotvolle ervaring te maak sodat elke leerder daagliks met ’n glimlag huistoe gaan,” het sy gesê.
Laerskool Laurus se leerders word in die klaskamer aan onder meer tegnologie en rekenaarprogrammering blootgestel.
Kultuuraktiwiteite asook blootstelling aan musiek, revue, debat en skaak vind alles in skoolure plaas. ’n Buitengewone aktiwiteit by die skool is die bou van modelvliegtuie onder die waaksame oog van Ray Moody, wat al baie dekades lank modelvliegtuie bou en vlieg.
Sportsoorte wat by die skool in skoolure beoefen word, is tennis, atletiek, rugby, netbal, hokkie, krieket en toutrek.
Wat Laerskool Laurus uitsonderlik maak is die kollig wat laat val word op diere- en plantlewe asook met die klem op omgewingsbewaring. ’n Paar skape, kalwers, varke, hase en verskillende soorte pluimvee wat by tye op die skoolterrein rondloop is nie ’n buitengewone verskynsel nie.
Die skool spog ook met ’n olyfboomboord met olyfolie wat van die olyfoes gemaak word.
“Ons glo ons land se vooruitgang is deels afhanklik van bewaring. Daarom het ons die afgelope paar jaar hard gewerk om ’n liefde vir die natuur by ons leerders te kweek. Op ons skoolterrein is heelwat praktiese voorbeelde van hoe ons die omgewing met die skoolkurrikulum integreer,” vertel Huysamen.
Hoewel van Laurus se leerders gereeld met provinsiale kleure in onder meer atletiek, krieket, rugby en toutrek spog, val die klem by die skool veral op gesonde deelname en die ontwikkeling van vaardighede in verskeie sportsoorte.
Sedert die skool se naam na die Laerskool Laurus verander is, is baie verbeteringe al by die skool aangebring soos die mooi klubhuis wat aan Van der Rietstraat se kant van die skool is. Daar is egter ook nog ander verbeteringe in die pyplyn.
• Die Laerskool Laurus bied vanaf 18:30 op Maandag en Dinsdag, 18 en 19 Junie vanjaar, ’n revue, H2O, in die Oudtshoorn se Burgesentrum aan. Toegang is R60 persoon en kaartjies is te koop by die by die skool se kantoor.
The post Laurus plaas kollig op kind in sy geheel appeared first on DieHoorn.