
Bo: Na die groot skrik van ’n Kaapse kobra wat hom in die nag op haar duvet tuis gemaak het, kan Alida Truter (links) en Katrien April, wat die slang ontdek het, darem nou weer lag. Hier is hulle die week agter die toonbank van Truter se plaaskafee op die Rooiheuwelpad. Foto: Liesel le Roux

Mornay Thysse, Oudtshoorn se slangvanger, met die Kaapse kobra wat hy in Alida Truter se slaapkamer gevind het. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
HOE groot skrik jy as jy agterkom ’n Kaapse kobra het die vorige nag jou dubbelbed met jou gedeel?
Een persoon wat hierdie vraag kan beantwoord, is Alida Truter wat die afgelope 23 jaar die plaaskafee sowat 13 km buite Oudtshoorn op die Rooiheuwelpad saam met haar seun, Louis, bedryf.
Jy skrik jou dood, sê Alida oor dié onlangse ervaring van haar.
Alida, wat al 35 jaar lank ’n weduwee is, vertel van die nag ’n paar weke gelede toe sy haar duvet wou optrek, maar dit gevoel het of dit vashaak. Sy sê sy was net so half wakker en het maar verder geslaap. Die volgende oggend het sy eers besef die duvet wou nie beweeg nie omdat ’n Kaapse kobra hom op haar duvet tuis gemaak het…
“Ek het eers agtergekom daar was ’n slang op my bed toe ek hoor hoe gil Katrien April wat vir my werk,” vertel sy.
Die Truters bly in ’n woonstel agter die winkel.
Katrien wou die bed begin opmaak toe die kobra sy lyf oplig en regop op die bed gaan staan.
Soos in soveel gevalle op Oudtshoorn, het die slangvanger Mornay Thysse tot hul redding gekom. Hy het die Kaapse kobra uit die slaapkamer kom verwyder.
Alida sê hulle vermoed die slang het al die vorige middag by ’n buite-deur hul woonstel binnegekom.
“Ek onthou die deur was ’n rukkie oop toe ons hond ingekom het.
“Daardie selfde tyd het die voëls buite verskriklik geraas. Dit was waarskynlik die slang wat hulle laat raas het.”
Ná die voorval was hulle maar gespanne en versigtig, sê sy.
Sy, Louis en Katrien kan darem al deesdae oor die voorval lag.
Die vriendelike Alida vertel lag-gend: “Ek het die volgende aand die vlieëslaner in die kamer gebruik en vergeet ek het dit op die bed neergesit. Toe word ek die nag wakker en voel die vlieëslaner langs my been. Toe skrik ek my weer byna dood!”
The post Kaapse kobra seil tot in weduwee se dubbelbed… appeared first on DieHoorn.