TEN minste 26 groot bome is Sondagmiddag op Oudtshoorn omgewaai toe ’n stormwind en ’n donderstorm die dorp gelyktydig getref het.
Dié stormweer het gevolg na ’n baie warm en drukkende naweek met temperature wat tot bo 40 grade Celsius geklim het. ’n Top-windsnelheid van 87 km/h is die middag deur die Aifa-vliegskool by die Oudtshoorn Lughawe gemeet.
Van die strate waar bome geval het, was Middelweg, Adderleystraat, Twintigste Laan, Victoriastraat, Wallisstraat, Boegoebergstraat, Leeubekkie- weg, Buffelweg, Oxfordstraat, Roosweg, St Johnstraat, Vredestraat, Simpsonstraat, terwyl bome by die Bridgton Toeristekamp, De Jager Sportkompleks, die Rec, Môrester-koshuis en die Kerkstraat-swembad ook deurgeloop het.
Gistermiddag het ’n palmboom in Corrighanstraat onder weerlig deurgeloop en aan die brand geslaan.
Die Oudtshoorn Brandweer was gou op die toneel om die brand te blus.
Soos die naweek het die kwik gister ook tot bokant 40 grade Celsius gestyg voordat ’n harde maar kort reënbui en ligte hael geval het.
Reënval van tussen 4 mm en 15 mm is Sondag op die dorp gemeet. Die sterk wind wat die reën aangedryf het, het akkurate metings van die reën egter bemoeilik.
Gistermiddag is ’n verdere 4 mm reën gemeet.
In die opvangsgebied van die Raubenheimerdam, Oudtshoorn se drinkwaterdam, is Sondag 20 mm reën gemeet.
Teen gister het die damvlak op 51,59% gestaan. (Deur Liesel le Roux)
The post 26 bome swig voor 87 km/h-wind appeared first on Die Hoorn.