SY is moeg daarvan dat mense haar behandel of sy melaats is nadat sy die Covid-19-virus aangesteek het, sê die Oudtshoorniet Dedré Rupping (31).
Dié dapper Oudtshoorniet het die week haar stem gelug oor die klaarblyklike skaamte by mense om hul positiewe status bekend te maak, en ander wat jou laat voel jy het iets verkeerd gedoen as jy die virus opdoen. Sy sê dit is vir haar belangrik om oor haar ervaring te praat om mense so in te lig en te help om die stigma rondom Covid-19 te breek.
“Ek is nie skaam om te sê dat ek die virus opgedoen het nie. Ek dink ek was Oudtshoorn se 11de geval, as ek so na die statistiek kyk,” sê sy die week tydens ’n gesprek met Die Hoorn.
“Ek is nog dieselfde mens as voordat ek die virus aangesteek het, soos mense dieselfde bly as hulle ’n verkoue of enige griepvirus aansteek.
“Ek het alles reg gedoen om nie die virus aan te steek nie – my hande gewas, my masker gedra. As ek na sosiale media kyk, is daar sowaar mense wat dink almal wat die virus aansteek, soek daarvoor…”
Dedré sê sy het geen idee waar en hoe sy die virus opgedoen het nie en kon dit nie glo toe sy hoor sy twee weke gelede hoor sy is positief getoets nie.
“Ek was regtig geskok dat ek die virus aangesteek het.
“By my werk dra almal maskers en is almal versigtig. Ek was ook nêrens in aanraking met iemand wat ek weet die virus het nie. Ek het dit dalk aangesteek by iemand wat asimptomaties was. Verder was ek net ’n paar keer na ’n supermark toe.”
Sy vertel sy was nooit eintlik siek nie, en het haar slegs laat toets omdat ’n dokter dit aanbeveel het.
“Ek het ’n effense hoofpyn gehad en was ’n bietjie naar, maar kry dikwels ligte hoofpyne en het niks vermoed nie. My ma het my koors gemeet en dit was 37,1 grade C. Dit was toe dat ’n dokter aanbeveel het dat ek net vir veiligheid myself moet laat toets.”
Sy en haar ma het hulle na die uitslag op ’n plaas afgesonder waar Dedré sedertdien in isolasie was.
Sy sal Maandag weer terugkeer haar werk by die Cango Wildlife Ranch terugkeer.
Vir haar werkgewer en kollegas het sy net lof.
“Hulle het my regtig onderskraag en kontak my daagliks. Hulle is van die min mense wat my nooit veroordeel het omdat ek die virus aangesteek het nie.”
The post Covid-19: Geen rede vir skaamte of vooroordeel, sê Dedré appeared first on Die Hoorn.