OUDTSHOORN het sedert verlede week gegons nadat vertroulike inligting oor ’n ondersoek deur die regsfirma Webber Wentzel na onder meer Oudtshoorn se munisipale bestuurder, Allen Paul-se, op sosiale media gelek is. Verslae oor die ondersoek, wat twee volumes beslaan en die Oudtshoorn Munisipaliteit na bewering meer as R2 miljoen kos, moet nog deur die raad bespreek word.
Die verslae asook die bedanking van Colan Sylvester as burgemeester en die beëindiging van sy DA-lidmaatskap het politieke spanning sedert verlede week op die dorp aangeblaas.
Binne die raad en die munisipaliteit, waar verdeeldheid ook onder DA-raadslede bestaan, is daar na verneem word groot meningsverskille oor die verslae. Dié tweespalt heers al digby twee jaar binne die munisipaliteit.
Daar is selfs gerugte van raadslede wat van party wil verander om eerder saam met opposisiepartye te werk.
Die ondersoek, wat nie ’n forensiese ondersoek was soos al beweer is nie, het gevolg nadat die munisipale raad op 31 Januarie vanjaar besluit het om Paulse vir drie maande met verlof te stuur sodat klagtes teen hom ondersoek kan word.
Webber Wentzel is terselfdertyd ook getaak met ondersoeke na die verdrinking van Cornelius Draai begin Januarie in die Bridgton Swembad, klagtes oor die munisipaliteit se pensioenfonds asook oor die betrokkenheid van munisipale amptenare by die interne DA-tugverhoor van Sylvester.
Volgens Ntobeko Mangqwengwe, munisipale woordvoerder, is die verslae oor die ondersoek op 28 en 29 Mei tydens ’n raadsvergadering ter tafel gelê.
Hy sê die munisipaliteit sal verdere kommentaar oor die aangeleentheid lewer sodra die raad ’n besluit geneem het “oor die pad vorentoe”.
Die verslae het Maandag by ’n raadsvergadering ter sprake gekom en sal by ’n volgende raadsvergadering Vrydag bespreek word.
Paulse het by navraag van Die Hoorn gesê die verslag is aan hom gestuur en sy vakbond en regsverteenwoordigers bestudeer dit tans en sal daarop reageer.
Die DA se kiesafdelingshoof vir Oudtshoorn, Eleanor Bouw-Spies, het gesê sy wil nie in hierdie stadium enige kommentaar oor die verslag lewer nie omdat dit nog eers voor die raad moet dien en die raad daarna ’n proses met die hantering daarvan moet volg.
“Ek sal reageer as die raadsproses afgehandel is,” het sy gesê.
Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, aan wie Sylvester reeds in Maart 2019 klagtes oor verskeie sake gestuur het, het nie ’n e-pos-navraag beantwoord wat aan sy kantoor gerig is nie. (Deur Liesel le Roux)
The post Dorp gons oor vertroulike verslag appeared first on Die Hoorn.