Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Kommer oor Covid in Oudtshoorn terwyl res van Tuinroete verbeter

$
0
0

OUDTSHOORN het tussen 26 Augustus en 1 September die meeste sterfgevalle (16) in die Tuinroete Distrik as gevolg van Covid-19 gehad, asook die meeste aktiewe gevalle bereken per 100 000 mense; hoofsaaklik omdat as gevolg van ’n daling in die gevalle in die res van die distrik.

Volgens syfers verstrek deur Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement Gesondheid, het Oudtshoorn en Mosselbaai tans die hoogste aantal aktiewe Covid-gevalle per 100 000 mense.Oudtshoorn staan nou op 233 gevalle per 100 000, en Mosselbaai op 149. Ander dorpe se getalle per 100 000 inwoners lyk soos volg: Bitou – 43, George – 88, Hessequa – 26, Kannaland – 9 en Knysna – 76.

Ook Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, het die week ’n waarskuwing aan inwoners gerig: “Covid-19 is nie verby nie. Ons wil inwoners aanmoedig om elke voorkomende stap moontlik te neem om die verspreiding daarvan te voorkom.

“Covid-19 het onvoorsiene uitdaging gebring en ons vermoë om dit aan te
spreek, sal ons toekoms bepaal.”

Oudtshoorn se totale aantal bevestigde Covid-19-gevalle het verlede week reeds die 1 000-merk verbygesteek terwyl 69 mense reeds daaraan gesterf het.

Macpherson het ’n beroep op inwoners gedoen om verantwoordelik te wees met die gebruik van alkohol, die hou van sosiale afstand en wanneer groepe vergader.

“Ek wil elkeen bedank wat uitgereik het om ’n mede-inwoner in nood te help, asook almal wat bydra tot ons almal se veiligheid deur ’n masker te dra en sosiale afstand te hou.

Adele Supra-Vertue, hoof van Oudtshoorn s rampbestuursafdeling, sê dit is kommerwekkend dat inwoners nie Covid-19-regulasies nakom nie, en dat dit vererger sedert Vlak 2 ingestel is.

“Mense loop sonder maskers rond en ignoreer die handhawing van sosiale afstand.

“Ons grootste kommer is dat mense te land wag voordat hulle mediese hulp soek en ’n stadium van die siekte bereik waar hulle gehospitaliseer moet word. Vir party is dit dan te laat.”

• Al klink Oudtshoorn se syfers hoog, sê Ferreira dat die Departement Gesonheid optimisties is oor die Covid-19-situasie in die Tuinroete. “In die distrik as ’n geheel ondervind ons dat die kurwe van aktiewe gevalle besig is om af te plat en so ook hospitaal-opnames en sterftes. Sommige sub-distrikte se syfers is beter as ander, maar wanneer ons die statistieke vergelyk met ’n maand gelede se syfers, blyk dit daaruit dat ons oor die piek is,” sê sy. (Berig deur Liesel le Roux en Stefan Skapie Goosen)

The post Kommer oor Covid in Oudtshoorn terwyl res van Tuinroete verbeter appeared first on Die Hoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434