Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Kat gebruik een van nege lewens

$
0
0
Die vyfmaandoue Max wat vyf dae in ’n gleufie tussen twee mure in ’n kaggel vasgekeer was, Dinsdagmiddag veilig by sy eienaars, van links Leatitia, Ruan en Kobus le Grange van Oudtshoorn.

Die vyfmaandoue Max wat vyf dae in ’n gleufie tussen twee mure in ’n kaggel vasgekeer was, Dinsdagmiddag veilig by sy eienaars, van links Leatitia, Ruan en Kobus le Grange van Oudtshoorn.

Deur Liesel le Roux

OP Oudtshoorn was daar die afgelope week ’n vyfmaande-oue katjie wat beslis ’n paar van sy nege lewens opgebruik het!

Die katjie, gedoop Max deur Ruan le Grange (8), het van Dinsdag tot Saterdag vasgekeer gelê in ’n 5 cm-gleuf tussen twee mure van die Le Granges se kaggel.

Terselfdertyd het die Le Granges – Kobus, Leatitia, Ruan en Wessel (15) – hoog en laag gesoek na Max. Daar is ook op Facebook na Max gesoek en die boodskap is verder deur vriende versprei.

Maar uit die aard van die saak kon niemand Max vind nie…

Intussen het Ruan getrou saans gebid dat Max moet terugkom.

Leatitia vertel dat hulle Max by Edy Fricke van Best Little Guest House op Oudtshoorn gekry het.  Hy was een van die kleintjies wat ’n wilde mammakat verlede jaar in Oktober in ’n solder by die gastehuis gekry het, en wat geleidelik makker geraak en by Edy kom miaau het wanneer hy kos gesoek het.

Max is egter voordat hy deel sou word van die Le Grange-huishouding eers gesteriliseer en verlede Maandag na dié operasie deur hulle huis toe geneem.

Leatitia, ’n baie groot katliefhebber, het Max in die een badkamer laat lê na sy operasie. Die plan was dat hy daar vir ’n week moet bly totdat hy gewoond is aan sy nuwe blyplek.

Max het dit egter reggekry om by die badkamer uit te glip, en toe deur die sitkamer te woerts en in die kaggel te verdwyn.

Max was daarna net weg, sê Leatitia.

Hulle kon sien dat ’n stuk plastiek waarmee die kaggel geseël was, stukkend was en dat Max beslis daar ingespring het.

Wat egter daarna met hom gebeur het, was ’n raaisel.

Die brandweer is ontbied en die personeel het oral binne die kaggel en op die huis se dak gesoek. Daar was egter geen spoor van Max nie.

Omdat Leatitia en Kobus weet dat daar ’n dubbele muur aan die agterkant van die kaggel was, het hulle ook daarbinne probeer soek.

Al hul pogings met stokke waarmee versigtig gevoel is en ’n kamera waarmee Kobus tussen die dubbelmuur probeer foto’s neem het, het egter niks opgelewer nie.

“Ons het deur die week soms ’n enkele miaau vanuit die omgewing van die sitkamer gehoor, maar elke keer gedink ons verbeel ons, of dit is dalk ons ander kat, Alice,” vertel Leatitia.

Tot Saterdagmiddag toe Wessel omstreeks 17:00 weer die enkele miaaugeluid hoor en sê dit klink vir hom of dit van die plafon af kom.

Kobus vertel dat hulle dadelik deur die plafon in die dak gekyk het, maar niks kon vind nie.

“Die volgende oomblik het ek egter net duidelik die insig gekry dat Max in die kaggel tussen die twee mure lê. Ek het dit net geweet en ek glo dit is die Here wat my daardie insig gegee het.”

Hy het ’n spieëltjie laat haal en met die hulp van ’n liggie aanhou soek totdat hy ’n paar swart haartjies gesien het.

En toe het Kobus begin boor en beitel en kap!

Hy het ure lank baie versigtig een steen na die ander uit die kaggel gehaal totdat klein Max omstreeks 22:00 oop gelê het.

“Die gleufie waarin hy gelê het, was so nou dat ek hom nie daaruit kon trek nie. Ek moes albei my hande gebruik om hom versigtig uit te haal,” vertel Kobus.

Leatitia het die katjie dadelik na ’n plaaslike veearts, dr Reinette du Plooy, geneem – baie bekommerd dat hy nie dié trauma gaan oorleef nie.

Max was egter ongedeerd en sonder enige teken van ontwatering.

Hy was net rasend honger en het sommer by die veearts sy eerste bakkie kos verorber!

Dinsdag het Max stroopsoet saam met Kobus, Leatitia en Ruan vir die kamera geposeer.

Die volgende ding wat die Le Granges wil doen?

Hulle gaan sommer dadelik die kaggel verseël en seker maak Max kan nie weer daarin glip nie, sê Kobus.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434