Met meer as die helfte van die kaartjies vir vanjaar se Klassieke Klein Karoo Kersfees reeds verkoop, is dit ’n goeie idee om sommer vandeesweek joune te koop.
Dié konsert, wat vanjaar op Saterdag, 12 Desember, op die granaatplaas Celebratio aangebied word, is reeds ’n instelling op die Desember-kalender.
Dis die perfekte manier om die feestyd af te skop en in die Kersfeesstemming te kom.
Hoewel die gewildste Kersliedere steeds op die program is, is daar ook vanjaar heelwat nuwe liedjies en verwerkings om na uit te sien. Die immergewilde Corlea Botha en Jannie Moolman keer terug as soliste, terwyl die Suid-Kaap-kinderkoor onder leiding van Jan-Erik Swart vir die eerste keer hul buiging by die konsert maak.
Konsertgangers kan uitsien na Kersliedere soos Stille Nag, Jerusalem en O Holy Night/Dis Kersfees, asook klassieke treffers soos Love Changes Everything, Panis Angelicus en O Sole Mio. Ook op die program is Karoonag, Somerkersfees en Gebed.
Die koor en soliste word begelei deur die Stellenbosch Stadsorkes, onder leiding van Paul Loeb van Zuilenberg.
Die konsert begin om 19:30 en die kos- en wyn-stalletjies is reeds van 18:00 af oop. Plaaslike restaurante en wynkelders sorg vir iets te ete en te drinke voor die vertoning asook tydens pouse.
Weens Covid-19-reëls is slegs 500 kaartjies beskikbaar vir die vertoning, Bespreek dus vroegtydig om teleurstelling te voorkom. Kaartjies kos tussen R200 en R220 en is aanlyn beskikbaar op www.celebratio.co.za of by PostNet se kantoor op Oudtshoorn. Dit is alles gereserveerde sitplekke op stoele. Die plaas is 30km buite Oudtshoorn, rigting Calitzdorp en geen grondpaaie hoef gery te word nie.
Vir meer inligting kontak gerus Gerhard Meyer by 0828027138.
The post Kaartjies vir Kerskonsert verkoop vinnig appeared first on Die Hoorn.