DIE noodsaaklikheid van gesprekvoering en “die onbelemmerde uitruiling van idees en opvattings” om so oplossings vir vraagstukke te vind, staan sentraal in ’n nuwe boek wat die Oudtshoorniet Jan van Wyk pas die lig laat sien het.
Die boek is daarom met reg getitel: Gesprek, en het die subtitel: Die nuwe aanslag.
Van Wyk is ’n bekende Afrikaanse taalonderwyser wat jare lank aan Aurial Kollege verbonde was. Hy was ook jare lank betrokke by verskeie ATKV-skryfskole.
Van Wyk sê die hele bundel handel inderdaad oor ’n gesprek – in die vorm van ’n hofsaak tussen Afrika, haar kinders, Europa en die res van die wêreld.
“Gesprekvoering bring heling en spreek vrese aan,” lui die agterbladteks van die bundel, en gaan voort: “Gesprek wil ’n beskeie bydrae lewer tot die heling van ons land, Suid-Afrika, Afrika as kontinent en die wêreld.”
Van Wyk sê die gedagte aan die boek kom al ’n hele paar jaar aan, en sy groot hoop is dat dit as stimilus vir verdere gesprekvoering sal dien.
“Niemand oor al die eeue heen voer gesprek met die kinders van Afrika en luister na hulle nie, maar wil namens Afrika en sy kinders besluit.”
Gesprek skop af met ’n hofgeding en word teruggevoer na die eerste besetting deur die Europeërs. En die uitspraak wat die hof uiteindelik bied, is ’n voorstel tot die heling van Afrika.
In Van Wyk se woorde: “Deur gesprekvoering kan enige probleem, hoe groot of klein, opgelos word. Gesprek is ’n vertelling van die skepping tot die herlewing van Afrika. Dit is ook die vertelling van die seer, die verontregting en die pynlike vernedering van die inheemse mense. Die gesprek is ook ’n gesprek van rekonsiliasie.
Die besonderse bundel is by Van Wyk te koop teen R120 per eksemplaar. Kontak hom by sel 060 438 2701. (Deur Liesel le Roux)
The post Nuwe boek wil gesprekvoering oor vraagstukke aanmoedig appeared first on Die Hoorn.